Local News

‘n Spogdinee om nog ‘n besonderse jaar vir die MOTHS the vier

Die Moths het trots bymekaargekom om oor die jaar te besin, om al hulle prestasies te vier en die jaar in samesyn af te sluit.

POLOKWANE – Die pakke is afgestof en die medaljes blinkgevryf toe lede van die Botha Skuilgat van die Agbare Orde van die Staaldakke (Moths) Saterdagaand die jaar met ‘n spogdinee by die klubhuis afgesluit het.

Old Bill Anton le Roux het die Moths en gaste verwelkom en verduidelik dat die organisasie se doel is om ‘n diens aan die gemeenskap, maar in besonder militêre veterane en hul families, te lewer.

Die uitgelese groep bestaan uit oudlede van die weermag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Spoorwegpolisie en is ‘n spesie op hul eie, volgens Le Roux.

“Na my mening is die hoofrede vir die volgehoue bestaan van veteraanorganisasies die verlange na kamerade waaraan ons almal gewoond was,” het hy bygevoeg.

Die Botha Skuilgat was vanjaar baie bedrywig en het onder andere die John Jenkinstrofee vir die beste ledewerwing en die provinsiale ondersteunersfrofee verwerf.

Die Ystertjies van Pietersburg Laerskool is finansieel en andersins ondersteun en die Moths het ‘n reuse bydrae gelewer tot die bedryf van hul topprojek, die Peacehaven Behuisingskompleks.

Daar was ook tyd vir plesier en die potjiekoskompetisie en optrede deur die Staccatos is goed ondersteun.

Medaljes is uitgedeel tydens die jaarlikse Herdenkingsdag (Poppy Day).

By die dinee is sertifikate oorhandig aan Martin Erasmus, Naas Moulder en Colin Edwards en die borge wat die funksie moontlik gemaak het; BB Truck and Tractors, The Plumbers, Wildman Hunting and Outdoor en Talisman Hire Polokwane is hartlik bedank.

Le Roux het ‘n spesiale woord van dank gerig aan Margie Harris van N/M Business Enterprises wat vir die voortreflike ete en voorbereiding van die saal verantwoordelik was.

“Haar betrokkenheid by ons funksies het al ‘n tradisie geword,” het Le Roux verduidelik en Dioné Cilliers, wenner van die Tommie Got Talent 2016, bedank vir die sang en musiek wat tot die geselligheid van die funksie bygedra het.

“My uitvoerende komitee en die funksiekomitee en laastens my vrou Isabel, se aandeel word ook hoog op prys gestel,” het Le Roux afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button