Muurbalspelers meet kragte tydens jaarlikse kampioenskappe
Die Kameeldoring Muurbalklub het onlangs hulle jaarlikse kampioenskappe aangebied waar dié 15 klublede hard gespeel het vir 'n plek in die eindronde.
MOKOPANE – Altesaam 15 ywerige muurbalentoesiaste het nie op hulle laat wag om onlangs hulle vaardigheid te toets en hulle passie uit te leef nie.
Die Kameeldoring Muurbalklub het onlangs hulle jaarlikse kampioenskappe aangebied waar dié 15 klublede hard gespeel het vir ‘n plek in die eindronde.
Daar was vanjaar ook vier dubbelspelspanne.
Cecilia Engelbrecht het eerste geëindig in die vroue-afdeling gevolg deur Sonia Pieterse, Lorinda dos Santos en Soretha Kruger.
In die mansafdeling was daar bietjie meer kompetisie, maar Robert Abrahamse het stof in die ander deelnemers se oë geskop.
Derek Jordaan was kort op sy hakke gevolg deur SJ Jonker, Pieter de Beer, Dries Hanekom, Gerhard Kotzé, Dries Roodt, Dries Coetzee, Tommy da Ponta en Freddie van Eyk.
Die spanwerk van Derek Jordaan en Lorinda dos Santos het hulle na die eerste plek in die dubbelspel gelei, terwyl SJ Jonker en Dries Hanekom tweede geëindig het.
Willem Reyneke en Dries Coetzee en Pieter de Beer en Dries Roodt het onderskeidelik derde en vierde geëindig.
Muurbal het omstreeks 1820 by die Engelse skool Harrow ontstaan uit ‘n soortgelyke spel, ‘rackets’ wat destyds in Engeland gewild was.
Rackets is ook op ‘n ommuurde baan gespeel, maar met ‘n harde bal.
Harrow se koshuisgeboue het ingeslote binneruimtes gevorm en die seuns wat die spel gespeel het, het daar geoefen, maar met ‘n sagte bal.
Die spel met die sagte bal het so gewild geword dat daar in omstreeks 1866 spesiale bane daarvoor gebou is.
Hoewel daar destyds in Engeland volgens vasgestelde reëls gespeel is, is muurbal daar nie op ‘n georganiseerde grondslag beoefen nie en is die eerste muurbalvereniging in 1907 in die VS gestig.
Amerikaanse muurbal word egter volgens ander reëls gespeel as die spel in Suid-Afrika.
Britse offisiere het muurbal na die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika bekend gestel en die eerste openbare baan is reeds in 1906 in Johannesburg gebou.
In 1910 het die eerste nasionale kampioenskapsbyeenkoms daar plaasgevind.
Suid-Afrika was ook ‘n stigterslid van die Internasionale Muurbalvereniging in 1967 en het aanvanklik aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem.
So het muurbal ook sy weg gevind na Mokopane.
Die klub het onlang skenkings ontvang en kan daar nou gespog word met splinternuwe bane en borde.
Neem deel aan dié sport, op hoë gehalte bane.
Hou hulle Facebook-blad dop vir meer inligting.




