100 Kersies vir Tannie Anne
Vir iemand wat die son reeds ‘n 100 jaar sien opkom en sak het, loop Tannie Anna nog soos iemand wat veel jonger in jare is.
POLOKWANE – Tannie Anna Smit sit doodstil terwyl Karien Potgieter haar hare was en blaas.
Sy is byna-byna gereed om haar verjaardag saam met familie en nabye vriende te vier. Dit is dan ook nie lank voor sy by die familie aansluit nie.
Vir iemand wat die son reeds ‘n 100 jaar sien opkom en sak het, loop Tannie Anna nog soos iemand wat veel jonger in jare is.
Alhoewel sy eers die 100 kersies op 5 Maart kon doodblaas, is haar verjaarsdag reeds die vorige dag gevier.

In ‘n onderhoud wat Polokwane Observer verlede jaar met tannie Anna gevoer het, het sy vertel hoe sy in Heidelberg op ‘n plaas gebore is, en die tweede van ses kinders. Later het die gesin Benoni toe verhuis waar sy op skool was.
“Ek het skool gegaan tot die destydse standerd 6, wat hulle nou gr. 8 noem. Daarna is ek na ‘n tegniese kollege toe waar ek geleer het hoe om naaldwerk te doen.”
Dit was nie lank nie of tannie Anna was ‘n kenner op haar gebied en het sy selfs trourokke en -pakke gemaak.
Op 17 trou sy met James Geere en teen die tyd wat die eerste van haar drie kinders gebore is, word sy ‘n tuisbly ma. Na James se dood in 1969 het sy weer begin werk. Die kinders was groot en kon self die werkswêreld betree.

“Baie jare na James se dood het ek vir Jannie Smit ontmoet en is ons getroud. Na hy dood is het ek baie lank op my eie gebly voor ek by my dogter, Annatjie Joubert ingetrek het.”
Dit is dan ook by Annatjie se huis waar die geselligheid gehou word. Sy sê haar ma is gesond en neem geen chroniese medikasie nie. “Sy help nog in die kombuis waar ons bak en brou en haar gesprekke is nog net so opgewonde en vol kleur soos altyd.”
Tannie Anna is reeds twee keer met kanker gediagnoseer. Op 70 het sy nog by ‘n melkery gewerk en so af en toe naaldwerk gedoen. “Ek is nie iemand wat kan stil sit nie. My kinders kon my op 72 uiteindelik oorreed om nie meer te bestuur nie.”
Al tannie Anna se kinders kon nie by die partytjie wees nie, maar hulle het seker gemaak om deur die week voor haar verjaarsdag by haar te kom kuier.
Die partytjie was besonders, met vyf geslagte wat heerlik saamgekuier het.




