Passie lê in Jaco se kameralens
Jaco Koekemoer is een van die seniorlede asook die voorsitter van die Potties Fotografieklub en het sy liefde vir fotografie by sy ouers geërf.
MOKOPANE – Deur die week is hy ‘n hardwerkende man, maar oor naweke en in sy vryetyd is dit hy en sy kamera.
Jaco Koekemoer is een van die seniorlede, asook die voorsitter van die Potties Fotografieklub. Hy het in 2018 by die klub aangesluit, nadat Marlize van der Merwe, ‘n bekende fotograaf in die dorp, hom genader het.
Sy liefde vir fotografie het hy by sy ouers geërf. Al was hulle nie professionele fotograwe nie, het hulle altyd ‘n kamera byderhand gehad, en hy vertel dat hulle baie foto-albums in die huis gehad het.

Hy het sy eerste kamera net na skool gekoop. Dit was ‘n gewone mik-en-druk. Soos wat hy deur die jare foto’s geneem het, het hy agterkom daar is meer om af te neem as net die familie en het begin om voëls en wildlewe vas te vang.
“Mense is moeilik om af te neem, en ek is nie baie goed daarmee nie, ek verkies die natuur, iewers waar ek op my eie is of saam met iemand wat dieselfde passie het, en net vir ure kan sit en wag vir die perfekte foto. Daar kom soms geleenthede waar mense jou vra om vir hulle foto’s te neem, dan doen jy dit maar,” sê Jaco.
Hy verduidelik die grootste uitdaging van fotografie is om die regte ding op die regte plek en op die regte tyd te kry.
“Jy kan wildtuin toe gaan vir ‘n week en niks kry om af te neem nie. Die grootste uitdaging met wildlewe en voëls is, dat jy nie net kan besluit jy gaan nou ‘n leeu wat iets gevang het afneem nie, die tydsberekening is die grootste uitdaging.”

Jaco het ‘n kort aanlynkursusse gedoen wat beginnerfotograwe leer oor die basiese stelling van die kamera. Hy het verder navorsing gedoen en ‘n klomp aanlynvideos gekyk vir verdere tegnieke. “Jy moet jou kamera leer ken, en vir jou ‘n styl kry wat vir jou werk. Ek dink die toerusting sê ook baie van hoe jy foto’s neem en die kennis wat jy van fotografie het.”
Hy het nie baie toerusting nie, hy is tevrede met die twee kameras, lense en eksterne flits. Die 70mm-200mm lens is sy gunsteling om mee te neem. Die lens is baie skerp en vining. Die enigste nadeel is die lens se gewig. Dit is baie swaar omdat dit nog deel is van die ou lense wat van metaal gemaak is.
“As jy foto’s neem, moet jy voorbereid wees. Mense dink altyd as jy op vakansie gaan dan het jy nie al jou toerusting nodig nie, jy los die hefte van jou lense by die huis, en dan kom jy op ‘n plek waar daar dalk ‘n mooi landskap is, en dan is jy nie gerat om dié perfekte prentjie vas te vang nie.”

Hy en sy broer het net na die afskaffing van die grendeltydperk besluit om vir 40 dae Namibië toe te gaan. Hulle was by Sossusvlei waar die duine baie groot is, en hy vertel dat daar ‘n gemsbok verbygestap het wat vir ‘n oomblik stilgestaan het, hy het vir die perfekte fotogeleentheid met die duine in die agtergrond gesorg. Dit was vir hom ‘n spesiale geleentheid gewees, en dié foto is sy gunsteling.
“Almal kan foto’s neem, maar jy moet dit vir die regte rede doen en die regte kennis hê. Dit moet vir jou lekker en ‘n passie wees om agter jou kameralens te wees,” sê Jaco.




