Local News

André gesels oor die Boktruie en oor kleurblindheid

Review het met André Geerdts (17), wat self kleurblind is, gesels oor hierdie toestand.

POLOKWANE – Die Springbokke se wedstrydklere vir die Wêreld Rugbybeker het baie aanhangers rooi onder die kraag gehad nadat die tradisionele groen en goud vir turkoois verruil is.

Die rede vir die verandering is ‘n nuwe beleid wat vanjaar deur Wêreldrugby aanvaar is, wat bepaal dat een span in ‘n donkerkleurige trui moet speel en die ander in ‘n ligtekleurige trui. Alhoewel die rede hiervoor is om dit vir die mense wat kleurblind is makliker te maak, is hulle nie noodwendig te vinde vir die verandering nie.

Dit het wel die onderwerp van kleurblindheid in die kollig geplaas en Review het met André Geerdts (17), wat self kleurblind is, gesels oor hierdie toestand.

Volgens colourblindawareness.org is daar verskillende tipes kleurblindheid. By mense met normale kleurvisie funksioneer al drie tipes keëlselle – die term hiervoor is trichromasie. Die abnormale tipes staan bekend as protanomalie en deuteranomalie.

Protonamalie het ‘n verminderde sensitiwiteit vir rooi terwyl deuteranomalie ‘n verminderde sensitiwiteit vir groen het. Hierdie is die mees algemene vorms van kleurblindheid. Tritanomalie wat ‘n verminderde sensitiwiteit vir blou het, is egter uiters skaars.

Geerdts het geen rooi of groen keëlselle nie, en kan dus nie rooi en groen van mekaar onderskei nie.

“Almal maak nou ‘n groot storie van die Springbokke se truie, maar hulle gaan nie vir altyd daarin speel nie. Dit is net vir die Wêreldbeker. Ons wat nie kleur kan sien nie tel ook al is daar nie baie mense wat kleurblind is nie. Ek voel dit is ‘n gestremdheid, al dink ander mense dalk nie so nie. Die nuwe kleure staan mooi uit aangesien dit nie insmelt met die kleur van die gras nie.”

Geerdts was in gr. R toe sy onderwyser en ouers agterkom daar is fout. “Die onderwysers het gedink ek is aspris, want een dag ken ek my kleure en dan, die volgende dag, onder ander omstandighede, ken ek dit nie. Ek kan die verskillende skakerings van ‘n groep potlode langs mekaar sien, maar sodra sy my die kleure een-vir-een vra, antwoord ek verkeerd.”

Geerdts se ma het hom na ‘n oogkundige geneem wat met die Ishihara-toets vas gestel is hy het protonamalie en deuteranomalie.

Geerdts onthou sy vriende het in laerskool gehelp en hy en sy ma het ander maniere gevind om sy lewe te vergemaklik.

Alhoewel hy gek is na sport, het hy krieket gehaat aangesien die bal en die gras vir hom dieselfde kleur is. In die geval van die Springbokke se groen en goud kan hy die twee kleure onderskei aangesien die skakerings onderskei, maar vir hom is dit steeds een kleur.

Wanneer die rugbybroek wit is, staan dit uit en smelt nie saam met die trui en gras wat dieselfde kleur vir hom is nie. Twee donker kleure lyk baie dieselfde, sê hy.

“Hoe ouer ek word hoe moeiliker word dit. Ek kan nie wetenskap as vak neem nie, want ek kan nie sien watter kleur die eksperimente uitkom nie. Wanneer ek hokkie of rugby gespeel het kon ek nie net die bal sommer aangee nie, ek moes eers na die spelers se gesigte kyk sodat ek die bal nie na die verkeerde span aangee nie. Dit was stresvol maar my spanmaats het gehelp deur my naam uit te roep en dan was dit makliker en het dit foute verminder.”

Wanneer hy spanning ervaar kan hy selfs nie skakerings onderskei nie, vertel hy.

“Ek wil bitter graag ‘n polisieman word, maar in Suid-Afrika keur hul jou af as jy kleurblind is. Jy kan darem ‘n bestuurderslisensie kry. Die tipes werk wat ‘n mens na skool kan doen is ook beperk. Ek weet nie regtig wat ek misloop nie, want ek weet nie hoe die kleure lyk nie.”

Volgens Wêreldrugby is die persentasie mense wat aan kleurblindheid ly ongeveer 0,4% wêreldwyd.

“Wanneer ek bestuur leer ek lewenslesse, veral by verkeersligte. Ek weet wat is bo, in die middel en onder en kan sien watter lig brand. Ek is ook goed met jag – want ‘n bok kan nie vir my wegkruip nie, omdat ek in skakerings sien.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button