Local News

Familie onthou tannie Lizette Krüger (81)

Een van haar voormalige leerders, Yolandi Cilliers, skryf dat tannie Lizette haar gunsteling onderwyser was.

POLOKWANE – Lizette Krüger, ma van vyf, ouma van 12 en geliefde onderwyser van tientalle, is in die ouderdom van 81 oorlede. Sy word onthou as legendariese kunstenaar en onderwyser.

Na sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy beeldende kunste studeer en daarna by Hoërskool Pietersburg as onderwyser aangesluit.

Na slegs een jaar hang sy egter die onderwysskoene op, en wy haar tyd en aandag aan haar man, Johan met wie sy 59 jaar getroud was, en hulle vyf kinders.

Teen 1964 besluit sy om weer haar kennis te deel en begin sy Engels by PHS te gee.

Haar kreatiwiteit ken nie einde nie, en sy ontwerp beide Oosskool en Heuwelkruin se wapens. Haar gedigte word vir jare in Eisteddfods gebruik en sy wen meer as een keer die Direkteurstrofee vir Toneel met haar unieke toneelstukke.

Een van Lizette Krüger se skilderye.

In 1995 besluit sy om haar nes te verskuif en sluit sy by Oosskool se personeel aan. Hier gee sy weer Engels en maak seker dat menige leerder die taal verstaan en geniet. Sy verf die dekorstelle vir tientalle opperette by beide PHS en Oosskool.

Een van haar voormalige leerders, Yolandi Cilliers, skryf dat tannie Lizette haar gunsteling onderwyser was.

“Sy was my mees geliefde juffrou in my hele skoolloopbaan. Elke jaar vra leerders vir my waarom ek ‘n Engelsjuffrou geword het, dan vertel ek vir hulle van my Engelsjuffrou wat ‘n passie in my wakker gemaak en gekweek het.

Een van Lizette Krüger se skilderye.

“Ek probeer elke dag om die juffrou te wees vir die kinders voor my wat tannie Lizette vir my was. Sy het die grootste rol van almal in my lewe gespeel in wat ek gekies het om met my lewe te doen en ek is elke liewe dag dankbaar vir haar.

“Tannie Lizette se legacy lewe voort in soveel mense wie se lewens soveel ryker is omdat sy deel was daarvan en ons is haar ewig dankbaar.”

Tannie Lizette se kinders onthou haar as liefdevol en opreg, ‘n omgeemens met ‘n regverdige hart.

Een van Lizette Krüger se skilderye.

Sy was lief vir tennis en het ‘n groot vriendekring gehad. Sy was ‘n goeie gasvrou, ma, en vrou vir dr. Johan wat op die mediese vereniging gedien het en ook president daar was.

Nadat sy drie jaar gelede haar verfkwas vir die laaste keer neergesit het, het haar familie geweet dinge verander en daarna het haar gesondheid agteruit gegaan.

Sy word oorleef deur haar kinders en kleinkinders.

Haar begrafnis word op 13 Januarie om 11:00 vanuit die Noordgemeente van Omgee gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button