PHS-span se harde werk werp vrugte af by Podiumpret
Vier jong redenaars van Hoërskool Pietersburg het hul oog op sukses gehou en met harde werk ’n plek in die nasionale finaal van Podiumpret verower.
POLOKWANE – Vier gr. 9-leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) het bewys dat deursettingsvermoë en spanwerk vrugte afwerp toe hulle onlangs tot die nasionale finaal van Podiumpret deurgedring het.
Daniel Dreyer, Miané Vorster, Tshiamo Ramashala en Mariné van Zyl het in Januarie vanjaar vir die kompetisie ingeskryf en in Mei vir die eerste keer teen ander spanne meegeding.
Ná maande se voorbereiding en harde werk het hulle die eindronde op 24 September gehaal.
Volgens Tshiamo was die tema ‘Die koop van leerders moet geknoop word’.
Met talle skole wat deelgeneem het, was die kompetisie straf en die standaard hoog.
Vir Daniel was die eindresultaat ‘n bevestiging dat al die ure se oefening die moeite werd was.
“Dit voel goed om te weet dat die lang ure van oefen en harde werk wat ons ingesit het, nie verniet was nie. Dit is ook lekker om dit met my spanmaats te kan deel,” sê hy.
Die span het reeds in Februarie saam begin oefen en het tot kort voor die finaal volgehou. Hulle het ook aan ander kompetisies deelgeneem om waardevolle ervaring op te doen, terwyl elkeen individueel voorberei het.
Daniel sê die grootste uitdaging was om oefeninge met hul sportverpligtinge te balanseer.
“Alhoewel ons almal gespanne was, het die ander kompetisies waarin ons deelgeneem het, gehelp om ons gewoond te maak aan die omstandighede. Een groot uitdaging was tyd, aangesien ons ook met sport besig was,” vertel hy.
Mariné sê dit het gehelp dat die spanlede mekaar kon motiveer wanneer dinge moeilik geraak het.
“Daar was elke keer ten minste een van ons wat die ander kon aanmoedig. Dan moet ons ook nie vergeet van ons ouers wat kort-kort in ons nekke geblaas het nie,” skerts sy.
Volgens Mariné het hul nederigheid ook ‘n rol gespeel. Hulle het nie toegelaat dat vorige prestasies hulle laat grootkop kry nie, en het eerder op hul doelwit gefokus.
In spanredenaars is samewerking volgens haar net so belangrik soos individuele talent.
Elke spreker moet sy beste lewer, want een spanlid wat nie saamwerk nie, kan die hele span se poging benadeel.
Die span het hul visier op die oorwinning gestel en hard gewerk om dit te bereik.
Pizza en Plato, vertel hulle, het boonop gehelp om hulle gemotiveerd te hou.
Vir Miané was die aankondiging dat hulle die nasionale finaal gehaal het, die hoogtepunt van die reis.
“Dit het onwerklik gevoel. Dit is vir ons ‘n besondere eer om ons name op ‘n naamplaatjie by die bekende Keurboom by die Afrikaanse Taalmonument te hê,” sê sy.
Die kompetisie het hulle geleer om nie moed op te gee nie, veral op dae wanneer oefen die laaste ding is waarvoor hulle lus was.
Tshiamo sê die span wil nou eers hul prestasie geniet, maar beplan om volgende jaar weer deel te neem.
Hul wens is om ander leerders te inspireer om dieselfde liefde vir Podiumpret te ontwikkel en te ontdek waartoe harde werk en spanwerk hulle kan bring.




