Local News

‘Baba se behoeftes kom nou eerste’ – Juan-Marie

Juan-Marie, ma van die vyfjarige Alex, het ongeveer twee jaar gelede begin sukkel om te loop

POLOKWANE – Terwyl haar gesig vertrek van die pyn, sukkel Juan-Marie Cooper (33) om op die gemakstoel te gaan sit.

Juan-Marie, ma van die vyfjarige Alex, het ongeveer twee jaar gelede begin sukkel om te loop en sedertdien kniehalter talle mediese probleme haar.

Nie net is sy ‘n omgeema vir Alex nie, maar ook ‘n vrou vir Wessel. Sy het in administrasie gewerk tot onlangs, maar selfs dit het té veeleisend geword.

“In September 2021 het ek vir toetse gegaan om vir my broer ‘n nier te skenk, maar my witbloedseltelling was te laag. Slegs vier maande later, in Januarie 2022 het my bene skielik, sonder waarskuwing en rede, onder my begin ingee. Nadat ek ‘n paar keer geval het, is ons na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal vir behandeling. Hier het hulle vir my gesê dit is net spierpyn en ek moet rustiger lewe.”

Maand na maand het die probleem vererger en is Juan-Marie opnuut terug na die hospitaal, waar hulle dieselfde behandeling gegee het. Intussen het sy met krukke begin rondbeweeg.

“Na verskeie besoeke oor meer as ‘n jaar, het ons geld bymekaargemaak om ‘n privaat dokter te gaan sien. Dit was in April 2023 en hy het vir ons gesê die rede vir die pyn kan die gevolg wees van ‘n epiduraal wat ek met Alex se geboorte gekry het, of vanweë die Covid-19-inenting. Hy het vir my inspuitings gegee met onder andere ‘n inflammatoriese middel. Ek het ook antibiotika gekry, aangesien die dokter gesê het dit kan wees dat my rugmurginfeksie van ‘n bakterie afkomstig is.”

‘n Paar maande later is Juan-Marie weer dokter toe waar sy onverwags uitgevind het sy is swanger.

“Ons glo alles sal uitwerk soos dit moet. Ek het darem al ‘n paar kledingstukke en benodighede vir die baba gekry. Ek is nou 30 weke swanger.”

Wessel erken hy draai hulle sente meer as net een keer om, veral nou dat hy die enigste broodwinner is. Aangesien hulle ongeveer 10km uit die stad woon, moet hulle van taxi-dienste gebruik maak om hulle maandelikse inkopies te gaan doen en dokters en hospitale te besoek.

“Ons betaal tot R150 vir net een geleentheid. Dan is daar nog soveel ander uitgawes. Ons weet nog nie of ons ‘n seun of dogter verwag nie, want ons het nie nou die geld vir daardie skandering nie. By die privaat hospitaal kan hulle nie vir ons sê nie,” sê Wessel.

Alhoewel Juan-Marie ‘n maatskaplike toelaag ontvang het, moet sy weer aansoek doen daarvoor, maar met dié dat sy skaars kan loop, is dit moeilik.

Alle behandeling vir Juan-Marie se rug en beenprobleme is intussen op ys gesit tot na die baba se geboorte. Daarna lê daar weer baie dokters ondersoeke voor en selfs ‘n operasie.

Tans bly sy rustig by die huis, en sê haar laerug swel met tye op.

“Selfs as ek lê is dit seer. Met tye verloor ek die greep in my hande en sal ek koppies en glase laat val.”

Wessel het intussen ‘n Backabuddyrekening geskep waar hy vir hulp vra.

Hy kan gekontak word by 083 399 0635.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button