Local News

Geheime op Philadelphia word opgedra aan sy PHS-onnies

Soos vele ander skrywers, erken Riaan dat hy al jare met die storie in sy kop loop, maar net nie so volledig nie soos in boekvorm nie.

POLOKWANE – Om te skryf was nooit eintlik een van Riaan Grobler se drome nie, maar met aanmoediging van sy volgelinge en twee onderwysers het hy onlangs sy eerste boek, Geheime op Philadelphia, bekendgestel.

Riaan het sy skoolloopbaan in 1998 aan Hoërskool Pietersburg voltooi waar hy Afrikaans in gr. 12 by Ina van der Merwe gehad het. Riaan het die boek aan haar, tesame met Tina Snijder, wat sy Afrikaansjuffrou in gr.7 was, opgedra.

Hy onthou opstelle skryf as een van die lekkerste opdragte.

“Dit help jou om jou kreatiewe sy te ontwikkel. Jy kan die platform ook gebruik om emosies neer te pen wanneer jy byvoorbeeld nie baie daarvan hou om met mense te gesels oor jou emosies nie. Sit dit in ‘n karakter en gee só daaraan lewe.”

Riaan sê hy het enige gedagte daaraan om ‘n boek te skryf weggedink, “want hoe sal ek nou ‘n boek kan skryf?”

Maar sy liefde vir lees, Ena Murray se boeke en die Afrikaanse musiekbedryf was sy grootste inspirasie om dié liefdesverhaal te skryf, vertel hy.

Riaan se boek.

“Ek het ongeveer drie jaar gelede kort stories van dinge wat met my gebeur het op my Facebookblad geplaas en dit het viral gegaan. Mense het begin vra ek moet ‘n boek skryf en ek het die moontlikheid ondersoek. Omdat ek self lief is om romanse te lees het ek besluit ek gaan dit aanpak. Ek het eers twee kursusse voltooi.”

Soos vele ander skrywers, erken Riaan dat hy al jare met die storie in sy kop loop, maar net nie so volledig nie soos in boekvorm nie. Die hoofkarakter is, soos hy, ‘n sanger, maar geeneen van die karakters is op enige iemand se verhaal geskoei nie.

“Daar was uitdagings. Alles was nuut vir my, ek het immers nog nooit ‘n boek geskryf nie. Die bekende skrywer, Elsa Winckler, was my tutor tydens die gevorderde romankursus. Sy het my bygestaan, raad gegee en geleer. Die grootste uitdagings was om net uit een of twee karakters se perspektiewe te skryf. Maar ek het gou geleer hoe om dit onder die knie te kry. Ek is reeds goed gevorderd met my tweede manuskrip en dit behoort teen middel Februarie voltooi te wees.”

Nadat Riaan ‘n jaar en ‘n half aan die boek gewerk het, moes hy maande wag om van die uitgewer te hoor nadat hulle die manuskrip ontvang het.

“Ek kan die dag en tyd onthou toe ek daardie oproep kry wat sê die manuskrip is aanvaar vir publikasie. Ek was uiters opgewonde, maar ook stil van skok. Dit was werklik ‘n wonderlike gevoel.”

Riaan se raad aan leerders in ‘n Afrikaansklas is om te onthou, Afrikaans is die mooiste taal.

“Dit is ‘n unieke taal en om dit te kan praat en te skryf is ‘n voorreg. Ek het self nie van ál die aspekte van die vak gehou nie, maar die liefde vir die gebruik, praat en skryf van die taal is deur twee onderwysers by my gekweek.

“Tans as radio omroeper by PretoriaFM leer ek ook daagliks om die taal so suiwer as moontlik te kan praat. Dit is ‘n lekker uitdaging. My raad sal wees: lees so gereeld as wat jy kan, of dit nou gedigte is, prosa of kortverhale. Afrikaans is uniek. Geniet dit net.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button