Local News

Psigometrie is waar Estie se passie lê

Estie sê 'n psigometris se werk is om psigometriese assesserings in 'n verskeidenheid kontekste uit te voer.

POLOKWANE – Almal het drome oor watter beroep hulle wil nastreef, of dit nou ‘n dokter, tandarts, vlieënier of ingenieur is, die droom is daar. Vir talle jongmense is die ontnugtering egter groot wanneer hulle besef hierdie droom gaan nie waar word soos dit tans daar uitsien nie, en moet hulle alternatiewe opsies oorweeg.

Estie Pretorius, oud-leerder van Hoërskool Pietersburg het ook aanvanklik iets anders in gedagte gehad totdat sy met psigometrie te doen gekry het. Nou kan sy ook ander help om ‘n nuwe droomberoep te kry, sou dit nodig wees.

“Ek het na skool na die Universiteit van Pretoria (Tuks) gegaan waar ek BA algemeen studeer het.

Daarna is ek nie gekeur vir my honneursgraad nie, en moes ek eers ‘n jaar rus. Dit was in hierdie jaar dat ek werklik besef het waar my hart lê. Aan die einde van die jaar is ek na die Universiteit van Johannesburg waar ek my honneursgraad in sielkunde voltooi het. Hierna het ek my B. Psych Equivalent Psychometry-kursus voltooi.”

Gedurende die jaar wat sy nie op universiteit was nie, het sy praktiese ondervinding by Generaal Piet Joubert opgedoen waar sy saam met ‘n opvoedkundige sielkundige en psigometris gewerk het.

“Hulle het my laat besef dat psigometrie die beroep vir my is. Ek het elke oomblik geniet om te kyk hoe hulle kinders help met toekomsbesluite, skoolgereedheid en toetse om te besluit watter tipe skool hulle by sal baat. Daar het ‘n groot passie om ouers gerus te kan stel en ‘n glimlag op ‘n kind of student se gesig te sit, in my ontstaan.”

Om ‘n psigometris te word is, is volgens Estie nie maklik nie en neem ten minste vier en ‘n half jaar. “Keuring is baie streng. Die psigometriekursus was ‘n sesmaande klasdraf en praktiese kursus en ek moes self ‘n praktyk kry om my op te lei. Daar is egter min praktyke wat tydens Covid-19 en daarna bereid was om te help.”

Estie sê ‘n psigometris se werk is om psigometriese assesserings in ‘n verskeidenheid kontekste uit te voer. Twee bene daarvan is opvoedkundig en korporatief.

“Ons administreer, merk, tel op, interpreteer, rapporteer en gee terugvoer gebaseer op die assesserings se uitkoms. Waar ons nie kan help nie of dit buite ons beroepsveld is, voorsien ons die regte verwysings na ander praktisyns wat verdere hulp kan aanbied.”

Wiskunde is ‘n belangrike vak om te hê en Estie sê toe sy vir sielkunde aansoek gedoen het, moes sy ten minste 50% vir wiskunde behaal het. In Engels moes sy ‘n toelatingspunt van vyf hê, wat beteken sy moes tussen 60% en 69% vir Engels hê. Verder moet jy ‘n totale toelatingspunttelling van 30 hê om keuring te kry.

“Psigometrie is baie interessant. Jy doen toetse wat fokus op ‘n kliënt se persoonlikheid, belangstellings, persepsie, kognitiewe vermoë en soveel meer. Psigometrie help ‘n persoon om hulle self beter te leer ken en ook waar hulle sterk en swakpunte is.

“As ‘n psigometris geniet ek elke oomblik wanneer ek die toetse met die kinders aflê, jy leer so baie van elke liewe een. Geen twee kinders is dieselfde nie. Ek geniet die uitdaging om die toetse korrek te ontleed en so dalk ‘n invloed te hê op die kind se toekoms.”

Estie erken sy hou nie daarvan as sy sien ‘n kind sukkel akademies, maar die ouers is nie bereid om ‘n psigometris te konsulteer nie.

“Ek hou ook nie daarvan as ‘n ouer na sy kind verwys as dom of lui nie. Hulle besef nie die kind het nie die vermoë nie. Dit is ook sleg as jy verwysings gee vir ouers om hulle kind te help, maar hulle volg nie die aanbevelings nie.”

Sy werk in dié stadium net met kinders van gr. R tot en met studente, met die fokus op skoolgereedheid, vakkeuses en beroepskeuses.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button