Word ge-ink en ge-ïnspireer by Vera
Haar pigmente (kleur) word vanuit Amerika ingevoer en die masjien is lig op haar hand, sonder drade wat dalk in die pad kan wees.
POLOKWANE – Wanneer Vera Smit ‘n nuwe kliënt ontmoet, sien sy ‘n skoon verfdoek, en is sy gereed om haar talent uit te leef.
Vera het in Augustus vanuit Tzaneen na Polokwane verhuis waar sy haar tatoeërstudio, V-inked oopgemaak het.
“Ek sien wat ek doen as kuns, ‘n passie. Ek het 10 jaar gelede begin, al het ek dit die eerste twee jaar net na-uurs beoefen.”
Vera onthou hoe sy op hoërskool maklik deur die nag kon sit en teken.
Dit is egter moeilik om slegs uit kuns te oorleef, vertel sy.
“Iemand het my eendag genader en gevra waarom ek nie oorweeg om tattoeërmerke te doen nie. My eerste vraag was wat die kerk gaan sê, en die persoon sê toe, ‘as dit is hoe jou kerk is, is jy beslis in die verkeerde kerk’. Aan die einde van 2014 het ek ‘n kursus in tatoeërwerk gedoen.”
In 2017 het sy ook ‘n kursus in permanente grimering voltooi en in 2020 het sy haar piercing-kursus voltooi.
“Die kursusse is belangrik vir higiëniese doeleindes. Jy leer nie hoe om te teken nie, maar eerder hoe om die naald te gebruik.”
Die seerste plekke waar ‘n persoon ‘n tatoeërmerk kan kry, vertel sy, is op die gewrigte en ribbes. ‘n Persoon se rug of bors is Vera se grootste verfdoek, sê sy. Sy doen ook slegs basiese piercings soos in die ore, gesig, naeltjie en borste.
Haar pigmente (kleur) word vanuit Amerika ingevoer en die masjien is lig op haar hand, sonder drade wat dalk in die pad kan wees. “’n Mens kan loodvergiftiging opdoen indien die verkeerde pigment gebruik word. Dit gaan vir my oor integriteit wanneer ek met ‘n kunswerk besig is. Daar is baie goed wat verkeerd kan loop. Ek is baie streng oor higiëne, en gebruik ‘n nuwe naald vir elke nuwe kliënt.”




