Local News

Geliefde Lizelle oorwin haar strafste wedloop

Lizelle is op die herstelpad, maar in November 2022 hoor sy sy moet nog twee keer stamselaanvullings kry.

POLOKWANE – Op 60-jarige ouderdom, na sewe Comrades Marathonne en hoeveel ander padwedlope, word Lizelle de Bruin gekonfronteer met ‘n nuwe soort wedloop – een waar daar baie trane, vrae en vrees sou wees.

Lizelle is ‘n geliefde en bekende gesig onder veral hondeliefhebbers in die dorp, met haar hondeskool, hondesalon en honde-oorslaapgeriewe, en het tydens die Januarie vergadering van die Pietersburg Tuinbouklub, haar roete met kanker met lede gedeel.

“Ek het my lewe lank gesond geleef, reg geëet en gereeld geoefen. Ek het twee van die sewe Comrades Marathonne wat ek voltooi het onder nege ure voltooi, maar die Here het vir my ‘n nuwe uitdaging gegee, ‘n berg wat ek moet uitklim. In 2021 het ek en my man, Michiel vir ons jaarlike bloedtoetse gegaan. ‘n Paar dae later bel die dokter my en verduidelik daar is fout met my bloedtelling. Die rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies is gevaarlik laag.”

Lizelle moes gaan vir ‘n beenmurgaspirasie waarna sy hoor die uitslae kan tot vier maande neem. Haar weeklikse toetsuitslae wys niks ernstig nie, maar ‘n huisvriend sê sy moet so gou as moontlik by dr. Dave Brittain, ‘n hemaloog uitkom.

“Op 3 Januarie bel die plaaslike internis my en sê ek moet so gou as moontlik by ‘n onkologiespesialis uitkom. Ek was verpletterd. In my hart het ek heeltyd gehoop dit is iets anders.”

‘n Week later is Lizelle en Michiel in Pretoria.

Hier bevestig Brittain dat Lizelle beenmurgkanker het. Sonder behandeling is haar lewensverwagting 36 maande. Daar word dadelik na ‘n beenmurgskenker vir Lizelle gesoek.

Lizelle het vrae en vrese, trane en gebede. Michiel en die res van Lizelle se familie praat haar moed in.” Tydens Lizelle se eerste chemoterapie-sessie, word daar aan haar verduidelik wat om te verwag met ‘n stamsel oorplanting. Die chemoterapie maak haar siek, maar tussen die chemoterapiesessies bly Lizelle oefen.

Haar drie susters laat hulle toets om te bepaal of hulle skenkers kan wees, en net een is uiteindelik ‘n geskikte skenker.

“‘n Beenmurgoorplanting is my enigste kans op langtermynoorlewing. maar daar is baie risiko’s. As my liggaam dit verwerp of die skenkerselle my selle verwerp, gaan ek dood. Infeksies is die grootste gevaar.”

Die volgende weke is moeilik vir Lizelle en haar familie. Sy moet heeltemal in remissie wees voor die oorplanting kan begin, intussen moet sy isoleer van haar kinders en kleinkinders. Van haar kinders emigreer, en ander nabye familielede sterf intussen af. Op 5 Julie 2021 word die beenmurgoorplanting gedoen.

Lizelle is op die herstelpad, maar in November 2022 hoor sy sy moet nog twee keer stamselaanvullings kry. Verlede maand word sy met Graft vs Host (GVH) siekte gediagnoseer, waarna sy vir twee weke om haar lewe veg.

“Die positiewe kant is dat ek nooit weer kanker sal kry nie. Die siekte maak nie net die goeie selle dood nie, maar ook enige kankerselle. Vandag kan ek getuig, uit hospitale en isolasie, my marathon was op en af, maar ek is dankbaar. God het sy eie planne met ‘n mens se lewe. Deur God se genade het ek baklei met hierdie aaklige siekte wat ek gekry het en wat baie mense nie oorleef nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button