Local NewsSchools

Taai kwessies vir hedendaagse jeug

Alhoewel beide xenofobie en rassisme deesdae alledaagse terme is, weet jong leerders nie altyd hoe om die kwessies te hanteer nie.

POLOKWANE – Dertig jaar gelede was woorde soos xenofobie en rassisme nie naastenby so bekend soos vandag nie. Die kinders van destyds is nie met hierdie woorde gekonfronteer nie, maar vandag lyk dinge egter heelwat anders. Dié woorde is ook nie beperk tot TV-nuus en koerante nie, maar kom deesdae in die klas en op die skoolgrond voor.

Volgens die HAT is xenofobie die afkeur van alles wat vreemd is; of vreemdelingehaat, en rassisme die veronderstelling of oortuiging dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras of velkleur; ‘n denkrigting wat aanneem dat ‘n besondere ras of bevolkingsgroep meerderwaardig is en die reg het om ander rasse of groepe te oorheers.

Alhoewel beide xenofobie en rassisme deesdae alledaagse terme is, weet jong leerders nie altyd hoe om die kwessies te hanteer nie. Polokwane Review het met Karlien Roggeband, die berader by Hoërskool Pietersburg, gesels oor hoe om kinders by te staan.

“Om kinders te help om deur xenofobie en rassisme op skool te navigeer, vereis toegang tot toepaslike hulpbronne.”

Roggeband stel die gebruik van boeke en literatuur voor.

“Stel ouderdomstoepaslike boeke voor wat diversiteit, insluiting, en verdraagsaamheid spreek. Soek na stories met karakters uit verskeie agtergronde.”

Opvoedkundige video’s kan ook ingespan word. Roggeband raai volwassenes aan om dokumentêre of opvoedkundige videos wat kulturele diversiteit bespreek, te verken.

“Aanlynplatforms bied dikwels inhoud wat begrip en aanvaarding bevorder. Jy kan ook gebruik maak van interaktiewe werkswinkels. Werk saam met opvoeders om werkswinkels oor diversiteit en anti-rassisme te organiseer, moedig dialoog en kritiese denke aan deur aktiwiteite.”

Skoolberadingsdienste vir individue of groepe kan ingespan word. Professionele personeel kan ondersteuning en hanteringstrategieë aanbied.

“Gemeenskapsbetrokkenheid is belangrik. Sluit aan by gemeenskapsorganisasies wat inklusiwiteit bevorder, woon geleenthede of werkswinkels by wat kulturele bewustheid aanspreek.”

Daar is ook aanlynhulpbronne beskikbaar. Gebruik aanlynplatforms wat opvoedkundige materiaal bied oor hoe om rassisme te hanteer.

“Webwerwe soos Teaching Tolerance, of Unesco bied waardevolle hulpbronne. Ouerbetrokkenheid is baie belangrik en bevorder oop kommunikasie tussen ouers, opvoeders en leerders. Dit skep ‘n ondersteunende netwerk om saam die leerder te help.”

Skole het ‘n skoolbeleid en prosedure waarmee die leerders en hulle ouers vertroud moet raak. Dit sluit die beleid oor diversiteit en diskriminasie in. Roggeband sê dit is belangrik om aan te dring op die implementering van inklusiewe praktyke.

“Onthou, ‘n holistiese benadering wat verskeie hulpbronne en belanghebbendes insluit, dra by tot ‘n meer omvattende reaksie op xenofobie en rassisme op skoolvlak.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button