LifestyleLocal News

‘Omarm verandering op jou manier’

Die vrees vir die onbekende is dikwels die rede hoekom die meeste mense nie van verandering hou nie, meen ‘n plaaslike lewensafrigter.

POLOKWANE – Die sêding ‘verandering is so goed soos ‘n vakansie’ mag dalk waar wees, maar dit beteken nie elkeen is gereed vir daardie verandering nie.

Polokwane Observer het met lewensafrigter Marie-Lee du Plooy oor verandering gesels, en hoe om dit te hanteer.

“Mense hou nie van verandering nie, want dit wat ons ken en dit wat ons gemaklik laat voel, word skielik van ons weggevat. Enige verandering kan mense laat ongemaklik voel en dit kweek vrees en angs.”

Sy sê die eerste rede waarom mense bang is vir verandering, is die vrees vir die onbekende.

“Dit laat ons bekende en gemaklike lewe skielik anders laat lyk.”

As ons dink aan die positiewe aspekte van verandering staan persoonlike groei heel voor in die ry. As ons selfondersoek doen, dan besef ons tot waartoe ons in staat is, en dit bevorder ‘n goeie selfbeeld en selfvertroue.

“Negatiewe aspekte soos vrees en angs kan ‘n negatiewe impak op ons hê. Verskeie mense wend hulself dan na medikasie asook alkohol. Baie mense begin onttrek en in hulself twyfel. Groot foute word gemaak deur belangrike besluite wat verkeerd geneem word as gevolg van die verkeerde emosionele toestand.”

Sy gee ‘n paar maniere hoe jy hierdie vrees kan oorkom:
• Jy kan begin deur eerstens te aanvaar wat besig is om te gebeur of gaan gebeur in die toekoms.
• Vra vir hulp en maak gebruik daarvan. In die proses leer jy nuwe mense ken.
• Gee jouself genoeg tyd om die verandering te hanteer en te aanvaar.
“Deur deur jou eie stadiums van verandering te werk, kan jy weer vir ander riglyne en emosionele ondersteuning gee.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button