‘n Verhaal van vergifnis, hegte bande
Antonette Koekemoer deel haar reis van die dubbele verlies van haar ma asook die vergifnis wat daarmee saam gaan.
POLOKWANE – Reeds van ‘n vroeë ouderdom af het Antonette Koekemoer gehoor – om te vergewe maak jou ook vry.
Dit was egter eers heelwat later in haar lewe dat sy besef het hoe waar hiérdie woorde is.
Antonette was maar drie maande oud toe sy in pleegsorg geplaas is.
“My pleegouers het nooit vir my iets weggesteek nie, en dit is te danke daaraan dat ek en my biologiese ma, Lindie bymekaar uitgekom het. My pleegma, Rita, het nooit ‘n kans laat verbygaan om vir my te vra of ek reg daarvoor is om met ma kontak te maak nie. Daar was soveel aande wat sy met my gesels het oor hoe om die situasie te benader en sy het altyd vir my gesê ‘my kind, om te vergewe maak ook vry’.”
Lindie is in 2022 vermoor, en ‘n jaar later moes Antonette ook vir Obie, Lindie se man, aan die dood afstaan.
Dit was ‘n dubbelle slag aangesien sy in minder as ‘n jaar twee mense wat baie na aan haar was, moes begrawe.
Antonette was 18 toe sy en Lindie aan hulle verhouding begin werk het.
As kind was Antonette eerlik en opreg, ‘n sterk kind wat nooit oor die dinge in haar lewe gepraat het nie. Sy het ‘n groot hart wat altyd ander wil bystaan.
“Toe ek ouer raak, het die kwaad sy kop uitgesteek. Ek kon nooit verstaan wat gebeur het nie en geen antwoord was goed genoeg vir my nie. Ek was sewe toe ek vir Ma Lindie die laaste keer gesien het. Sy het gewoonlik Sondae gebel, maar ek het nooit met haar gepraat nie. Net voordat ek my 18de verjaarsdag gevier het, het Ma Rita vir Ma Lindie gebel en sonder dat ek geweet het dit is Ma Lindie op die lyn, het ek die telefoon geneem en gepraat.”
Toe Antonette Lindie se stem hoor, het haar hart in haar skoene gesink en, alhoewel sy nie veel kon sê nie, het die gesprek geëindig waar Lindie haar nooi om te kom kuier.
“Die vakansie het ek by haar gaan kuier en wat net ‘n dag of twee sou wees, het in drie weke verander terwyl my pleegma se woorde, ‘probeer om haar te vergewe’ in my kop gespeel het. Ek het baie vinnig lief geraak vir Ma Lindie.”
Saam met haar ma, het Antonette ook haar biologiese sussie, Bianca, ontmoet en die twee is steeds onafskeidbaar.
“Ons het ‘n baie hegte band en is baie lief vir mekaar. Ons het baie jare wat ons saam verloor het en koester dit wat ons nou het. Alhoewel sy nie in Polokwane woon nie, maak ons tyd om by mekaar uit te kom.”
Om te vergewe is nie maklik nie, en Antonette erken die proses was moeilik en seer.
“Dit is waar dat as jy iemand vergewe, dit jou ook vry maak. Dit klink maklik as ek dit sê, maar dit is ‘n stofpad met baie klippe om te loop, en soms net voor jy dink jy is by die wenstreep, val jy jouself stukkend. Dan begin jy maar weer voor. Die een ding wat ek geleer het is om te bid, baie te bid, veral vir dié wat jou seer maak. Daar is nie ‘n vinnige oplossing nie maar God verstaan en Hy werk met almal anders.”
Antonette en Lindie se verhouding is herstel nadat hulle gereeld saamgekuier het. Lindie was oop om met Antonette te gesels oor wat gebeur het, en waarom sy die keuses gemaak het wat sy moes maak.
“Een van die dae wat ek by haar gekuier het, het sy vir my ‘n fotoalbum gewys wat sy vol foto’s van ons soos ons groot geword het, gemaak het. Sy het baie gehuil en ek het besef dat dit ook nie vir haar maklik kon wees nie, sy was immers in ‘n situasie vasgevang. ’n Mens besef nie altyd die seer en diepte van iemand se gevoelens nie. Daardie dag het sy net gesê, ‘jammer my kind oor alles’ en God het regtig my hart ook heel gemaak”.
Antonette was teen die grond toe Lindie sterf, so kort nadat hulle mekaar weer gevind het. Sy vind egter berusting in haar geloof en word deur haar man, Tiaan, ondersteun.
Sy skryf tans aan haar lewensverhaal oor hoe verwerping en seer ‘n mens kan verwoes, maar ook hoe sy haar ma leer liefkry het, kon vergewe en ook haarself vergewe het.




