Gróót Fees hierdie naweek
Die Gróót Fees vind hierdie Saterdag by Pietersburg Laerskool plaas en ingang is gratis.

POLOKWANE – Die Gróót Fees vind hierdie Saterdag by Pietersburg Laerskool plaas, wanneer die AP-Kerk Pietersburg dié geleentheid aanbied – en ingang is gratis.
Die dag begin reeds om 07:00 en daar sal ‘n verskeidenheid stalletjies met vars groente en vrugte, vleis teen billike pryse, pannekoek, basaarpoeding, pap en kaiings, hamburgers, stokwors en vele meer wees.
Vir die soettande is daar mini-oliebolle, varsgebak en yskoeldranke en vir die kinders sal daar ‘n kindertafel wees en hulle sal ook hulle eie kolwyntjies kan versier.
Ander vermaak sluit in perdry en by die witolifanttafel is ‘n verskeidenheid bruikbare items, onder andere ‘n gerestoureerde 1956-fiets. Behalwe vir al die stalletjies is daar verskeie kompetisies soos ‘n skyfskietkompetisie met ‘n nuwe windbuks as prys, ‘n kettieskietkompetisie waarin die wenner ‘n staalkettie kan wen en ‘n hekelkompetisie, met groot pryse.
Mans kan aan die Movember kompetisie deelneem waar hulle baard vir hulle groot pryse kan besorg.
Vir meer inligting, skakel 015 298 8028.




