Val-uit-die-lug vir PLS se onnies
Drie onderwysers van PLS het uit vliegtuie gespring vir die skool se jaarlikse Valskermkompetisie, 'n dag vol pret en plesier vir almal.
POLOKWANE – Waar die meeste Vrydae lank en vervelig voor die personeel en leerders van Pietersburg Laerskool lê, het Vrydag ‘n paar verrassings ingehou. Van werk was daar nie veel sprake nie, want drie van die personeellede sou later die oggend uit vliegtuie spring, want dit was tyd vir die jaarlikse Valskermkompetisie, waar leerders kaartjies verkoop en die onderwysers van die klasse wat die meeste verkoop, dan dié geleentheid kry.
Die leerders kry die geleentheid om saam te vlieg wanneer hulle juffrouens spring. Hierdie jaar het Nadine Venter, Thalita Wessels en Larochelle Kotze gespring.
Die eerste prys vir die meeste kaartjies verkoop is ‘n seevakansie, brandstof en sakgeld. Die tweedepryswenner kry ‘n bosveldnaweek, brandstof en sakgeld en die derde prys is R4 000 kontant.
Daar was ook drie trekkings vir ‘n tenk brandstof elk en twee trekkings vir R1 000 geskenkbewyse.
Na die dag se opwinding kon oud en jonk uitsien na Prop se optrede. Prop is bekend vir liedjies soos Kwaaitjie, Hasie Hop en Gogga. Die vure het gesellig op die rugbyveld gebrand en besoekers het op kampstoele en komberse op die gras gesit en kuier terwyl Prop vir die atmosfeer sorg.
Jonger kinders kon van hulle energie ontslae raak op die springkastele en daar was iets te ete vir almal.