Local News

CVO-skool se sluiting laat leerders gestrand

Volgens inligting het finansies en die nie-betaling van skoolfonds uiteindelik tot dié stap gelei.

POLOKWANE – Tot amper 200 leerders wat tot vroeër vanjaar nog verbonde was aan CVO Kremetart, moes onlangs inderhaas in ander skole in die stad geakkommodeer word na dié instansie sy deure gesluit het.

Bekommerde ouers van veral gr. 11-leerders, talle wat reeds hul skoolfonds by CVO Kremetart vooruit vir die jaar betaal het, het Polokwane Observer gekontak na hulle ter elfder ure plek vir hulle kinders in ander skole moes verseker.

Aangesien CVO Kremetart nie by die Departement van Onderwys geregistreer was nie, is dié ouers van mening dat hulle ‘n rat voor die oë gedraai is, en hulle kinders soveel werk moet inhaal dat sommige skole selfs aanbeveel het dat dit in hulle kinders se beste belang is om eerder die skooljaar te herhaal.

Ontevrede ouers het hulle ook tot sosiale media gewend waar hulle hul misnoeë oor die situasie te kenne gegee het.

Leer Meer Tuisonderrig

CVO Kremetart het voortgespruit uit Leer Meer Tuisonderrig, wat deur Yolande de Beer bedryf is.

As tuisonderrigsentrum, het Leer Meer aanvanklik ‘n kontrak as onafhanklike tutor met Impaq gehad, wat KABV-belynde kurrikulumprodukte- en dienste aan ouers en leerders bied wat tuisonderrig as alternatief verkies bo hoofstroomskole. Leerders in gr.10-12 moet by ‘n assesseringsliggaam wat deur Umalusi geakkrediteer is registreer om die Nasionale Senior Sertifikaat te voltooi.

Impaq is by Sacai, een van die geakkrediteerde assesseringsliggame, geregistreer en leerders wat by Impaq geregistreer is, word hier geregistreer en ontvang aan die einde van die suksesvolle voltooiing van hulle gr. 12-jaar hul Nasionale Senior Sertifikaat.

Impaq het, volgens ‘n brief in Polokwane Observer se besit, die ouers van Leer Meer Tuisonderrig verlede jaar in kennis gestel dat die kontrak met dié leersentrum en De Beer beeïndig is vanweë kontrakbreuk, na sekere reëls en regulasies waaroor vroeër gekonsulteer is, steeds nie gevolg is nie.

Die redes wat in die brief voorgehou is, dui op ongerymdhede in toetsreekse en eksamens.

Daar is onder andere opgemerk dat dié ongerymdhede kan dui op “leerders wat soveel as 100% ontvang vir take wat deur Leer Meer Tuisonderrig gemerk word, wat sukkel tydens die eksamen met basiese begrippe wat ontbreek”, aldus die brief.

Verdere ongerymdhede is ook in die merkproses deur Impaq se gekwalifiseerde merkers opgemerk, en prosesse hier rondom, asook die opsies wat ouers het omdat die kontrak beeïndig is, is breedvoerig aan hulle in die skrywe verduidelik.

Aangesien die tutorbesigheid egter ‘n aparte entiteit van Impaq was, kon De Beer voortgaan om die sentrum onder dié vaandel te bedryf.

CVO Kremetart

De Beer het Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) reeds in Augustus verlede jaar genader om die sentrum na ‘n skool toe oor te skakel. Vir registrasiedoeleindes moet daar by bepaalde sperdatums gehou word, onder andere dat die skool by die Departement van Onderwys geregistreer word.

Onder andere moet gesondheids- en veiligheidsertifikate uitgereik word, en gekwalifiseerde onderwysers aangestel word.

‘n Heffing word maandeliks per kind aan die BCVO oorbetaal vir dienste wat gelewer word. Dié heffing is gewoonlik by die skoolfonds ingesluit, en moet aan BCVO oorbetaal word, terwyl skoolfonds aangewend word vir operasionele doeleindes.

Volgens ‘n woordvoerder van die BCVO, het hulle CVO Kremetart op 23 Februarie vanjaar besoek om uitdagings aan te spreek en bepaalde bekommernisse met die ouerraad te bespreek.

Die BCVO het uiteindelik onttrek weens wanbetaling, en omdat die skool nie die sperdatums van registrasie en voldoende gekwalifiseerde onderwysers kon haal nie, aldus die woordvoerder.

“BCVO kan nie die skool bestuur nie, ons lewer slegs ondersteuningsdienste aan die skool se bestuur,” het ‘n verteenwoordiger laat weet.

Polokwane Observer het die woordvoerder van die Departement van Onderwys genader rondom die registrasie van CVO Kremetart.

Sy het bevestig dat De Beer wel die aansoek gebring het, maar dat uitstaande dokumente wat nie ingehandig is nie die proses vertraag het. Een van hierdie dokumente was die veiligheidsertifikaat wat uitgereik moes word.

“Ons sou die skool besoek sodra die dokumente in plek was.

Daar is egter geen bewys van registrasie op ons databasis nie, en dus kon ons ook nie ‘n Emis-nommer uitreik nie,” het sy gesê.

Bestuurspanne

CVO Kremetart het volgens rekord ‘n geweldige omset van skoolhoofde gehad sedert laat verlede jaar.

Van die leerkragte het ook beweer dat hulle sommige maande nie vergoeding ontvang het nie, en elders moes gaan werk soek om kop bo water te hou.

Tussen 1 en 3 Junie vanjaar word ouers per brief meegedeel dat De Beer vervang word as adjunkhoof van die skool aangesien sy en haar gesin ‘n nuwe fase in hulle lewe betree en sy nie verder by die bestuur van die skool betrokke sal wees nie.

Al die skoolhoofde wat deur Polokwane Observer genader is het, alhoewel hulle kommentaar gelewer het, verkies om dit nie-amptelik te doen.

Repliek

De Beer het by magte van haar regsverteenwoordiger, Francois Human, op Polokwane Observer se vrae gereageer.

Sy stel dit dat die skool se finansiële situasie drasties agteruit gegaan het vanweë ouers se wanbetaling van skoolfonds.

Sy hou ook voor dat die talle veranderinge in die skool se bestuurspan ‘n verlies aan kontrole in dié opsig teweeg gebring het.

Voortspruitend hieruit het ouers hul kinders uit die skool onttrek.

“Dit het daartoe gelei dat sommige gekwalifiseerde onderwysers afgelê moes word, en volgens my kennis, mag van dié skeidingspakkette steeds uitstaande wees.”

De Beer sê sy was egter nie betrokke by die afleggingsproses nie.

Rakende die beeïndiging van die Impaq-kontrak, is sy nie bewus van enige reëls of regulasies wat nie nagekom is nie. “Indien Impaq wel enige veranderinge versoek het, sou ons dit dadelik reggestel het.”

De Beer het voorts ontken dat leerders tydens toetse of eksamens van hulp voorsien is, en dat addisionele lesse vooraf gereël is om leerders vir assessering voor te berei.

Rakende die skool se registrasie, sê De Beer dat ouers deurlopend ingelig is van die proses en kennis gedra het van verwikkelings.

Sy het voorts ook ontken dat sy ‘n boete van Impaq ontvang het; dat ‘n saak van bedrog teen haar aanhangig gemaak is of dat leerders bygestaan is tydens toetse en eksamens.

Sy het by monde van Human laat weet dat sy op regsadvies na wyses kyk om haar naam te beskerm, en dat regstappe geneem sal word teen ouers wat ongegronde bewerings maak: “Daar was baie ouers (die meerderheid ouers) wat my en my man geprys het vir die moeite wat ons in hulle kinders insit”.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button