Local News

Wyn-liefhebbers ondersteun Vryburgers se wynveiling

Die gewildste kopies was drie 'vaatjies' wyn wat elkeen 300 bottels bevat, elkeen het net minder as R40 000 elk gehaal.

POLOKWANE – Die Vryburgers van Pietersburg se wynveiling vir liefdadigheid wat verlede Donderdagaand by Pietersburg Klub aangebied is, was ‘n gesellige samekoms van vriende en ‘n geleentheid om ‘n winskopie of twee op te raap.

Die wyne wat opgeveil is, is per vragmotor vanuit die Robertsonomgewing aangery en het ‘n wye keuse vir versamelaars en sakelui in die gasvryheidsbedryf en selfs diegene wat hul kliënte met ‘n spesiale geskenk wou trakteer, gebied.

Daar was ook wyne wat binne die bereik van die gewone koper was.

Afslaer Andrew Fraser in aksie by die wynveiling. Links: Touleier van die Vryburgers van Pietersburg, Ruan Erasmus wys een van die wyne wat opgeveil is.

Die wyne wat beskikbaar was, is netjies in lotte reggepak en afslaer Andrew Fraser was op sy pos en het die kopers met sy kwinkslae aangespoor om hul hande diep in hul sakke te steek.

Die gewildste kopies was drie ‘vaatjies’ wyn wat elkeen 300 bottels bevat, elkeen het net minder as R40 000 elk gehaal.

Die kopers word hulle eie keuse gelaat om die bottels van hul eie etikette te voorsien. ‘n Vyfliterbottel rooi jerepigo van Langeberg Winery het R2 900 gehaal, terwyl ‘n lot wat ‘n Van Loveren 1,5l Shiraz The Last One, ses bottels Bon Courage 2021 Limited Shiraz, ‘n Wolfendrift 2023 Muskadel en twee bottels KWV 5jr brandewyn bevat het, teen R7 000 van die hand gesit is.

Proewyne en eetgoed was volop by die wynveiling.

‘n Gelukkige koper het R9 000 betaal vir ‘n Van Loveren 1,5l Shiraz The Last One, 12 bottels Five’s Reserve Brandewyn en ses bottels babelaaswater.

Touleier van die Vryburgers, Ruan Erasmus was in sy skik met die opbrengs van die veiling.

“Ons het meer as verlede jaar ingesamel en is baie dankbaar vir die skenkings asook die ondersteuning van individue en die sakegemeenskap van die stad.”

Hy het ook die Vryburgers en lede van die Tafelronde bedank vir hul harde werk om die aand ‘n sukses te maak. “Pietersburg Klub het ook sy bydrae gelewer en ons waardeer dit.”

Die liefdadigheidsprojek is ‘n spanpoging van die Vryburgers van Pietersburg en Robertson en Tafelronde Pietersburg 22 en vanjaar se opbrengs sal oudergewoonte aan liefdadigheidsorganisasies in Polokwane en die Robertsonomgewing geskenk word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button