Limpopo pa van 6 tronk toe
Die man is vervolgens ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam moet opgeteken word in die nasionale register vir seksoortreders.
MOKOPANE – ‘n 45-jarige pa van ses, van die Maribashoek kleinhoewes is verlede Dinsdag 20 jaar gevangenisstraf opgelê vir die verkragting van sy 14-jaar-oue dogter in Mei verlede jaar.
Die naam van die man word weerhou weens die seksuele aard van die misdaad, en om die identiteit van die slagoffer te beskerm.
Die Mokopane Streekhof het gehoor hoe die meisie in haar ouers se bed geslaap het op 28 Mei verlede jaar, toe die pa, nadat hy tuisgekom het, haar verkrag het terwyl haar ma in die kombuis besig was om koffie te maak.
Volgens getuienis het hy vir sy dogter gesê om dit wat gebeur het, vir niemand te vertel nie.
Later dieselfde dag, het sy egter gehoor hoe hy haar jonger suster nader op ‘n ontoepaslike wyse, en haar ma van die vroeë verkragting vertel om te keer dat dieselfde met haar suster gebeur.
Volgens getuienis het die pa die 14-jarige meisie gemolesteer sedert sy 12 jaar oud was.
Die ma het die voorval by die polisie aangemeld en die saak is oorgegee aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele ondersoeke.
Die pa is na ‘n deeglike ondersoek deur Sers Ramolokoana Leshaba, op 31 Mei verlede jaar gearresteer. Die staat het borgtog teengestaan.
Die man is vervolgens ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam moet opgeteken word in die nasionale register vir seksoortreders.
Provinsiale polisiekommissaris Lt Gen Thembi Hadebe het die vonnis verwelkom, en gesê dit is te danke aan uitmuntende werk deur die ondersoekbeampte dat geregtigheid geseëvier het.