Local News

Maatjies groet vir Christiaan (10)

Christiaan van Wyk is laat Vrydagaand saam met vier van sy familielede in 'n motorongeluk op die N1 oorlede, sowat 10km vanaf die Sebetiela-tolhek.

POLOKWANE – Daar was Maandagoggend ‘n skoolbank leeg in juffrou Liezel Erasmus se gr. 4-klas by Laerskool Piet Hugo.

Daar waar Christiaan van Wyk (10) vroeër Vrydagoggend nog saam met sy klasmaats gelag en gesels het, sit niemand meer nie – die atmosfeer by die skool is swaar, en hier en daar word ‘n traan weggevee.

Christiaan is laat Vrydagaand saam met vier van sy familielede in ‘n motorongeluk op die N1 oorlede, sowat 10km vanaf die Sebetiela-tolhek.

Lees meer: Five killed in horror N1 incident

Hy was saam met sy stiefma, Minette, stiefbroer en -suster en Minette se broer, Dawie, in die voertuig.

Christiaan se pa, Flippie en dié se dogter, Nicolene Johnson (16), het ‘n ent agter hulle gery.

Flippie vertel hoe hy op ‘n sekere stadium nie meer die motor waarin Minette-hulle was, se ligte kon sien nie, en haar gebel het.

“Nadat ek haar nie in die hande kon kry nie, het ek teruggedraai in die rigting van Polokwane. Dit is toe dat ek en Nicolene op die ongelukstoneel afkom.”

Christiaan van Wyk vier sy 10de verjaarsdag. Foto: Verskaf.

Volgens die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) was die wit Volvo die enigste voertuig wat betrokke was, en voorlopige verslae dui daarop dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het, wat daartoe gelei het dat dit omgeslaan en verskeie kere gerol het. Al die insittendes is uit die motor geslinger.

Ook vir Nicolene is die afgelope naweek se gebeure onwerklik.

“Ek sukkel. Ek kan dit steeds nie glo nie, so asof my kop nie die situasie wil aanvaar nie.” Sy ontvang tans traumabehandeling. Christiaan se kleinboet, Henco (5) verstaan nog nie lekker wat gebeur het nie.

Volgens Christiaan se ma, Heloise, was hy ‘n liefdevolle kind.

“Hy was baie spraaksaam en het altyd grappies gemaak. Onder sy maats was hy baie gewild en daar was altyd ‘n nuwe maat saam met hom. Sy drome was om eendag vir die Amerikaanse weermag te werk en behalwe vir motorfietsryers en resieskarre, was hy ook lief daarvoor om rugby te speel. By die huis sou hy TV-speletjies speel.”

Die Laerskool Piet Hugo was in rou gedompel na die gebeure.

“Christiaantjie, die Here het jou naam geroep, jou as een van Sy mooiste blomme kom pluk. Ons vier jou lewe, liewe Christiaan. Rus in vrede seuna,” het skoolhoof Werner Christou hul hartseer en medelye verwoord.

“Dit is `n tragiese en donker tyd vir die Piet Hugo familie. Om een van ons geliefde kinders te verloor is een van die moeilikste gebeurtenisse wat ek al in my 20 jaar by Laerskool Piet Hugo moes deurgaan. Ons rou die afsterwe van ons geliefde Christiaan in gr. 4, met sy vriendelike gesiggie, ‘n kind wat die lewe ten volle geniet het. Ons deel ons innige simpatie met mamma Heloise, pappa Flippie, Nicolene en Henco sowel as die ander familie.

“Christiaan sal vir altyd in ons harte bly en voortleef in ons skool. Sy gesindheid het soveel ander leerders se lewe aangeraak en is `n ware refleksie van hoe `n mooi kind hy was. Ons gaan hom ongelooflik baie mis maar ons weet dat die Hemel `n engel ryker is. Klein Christiaan is vir ons almal `n voorbeeld van hoe ons die lewe ten volle moet geniet en om elke klein dingetjie te waardeer – so ook mekaar as familie, maats en skoolgemeenskap elke dag.”

Juffrou Liezel onthou hom as ‘n liefdevolle kind wat altyd gereed was vir ‘n grappie.

“Hy was ‘n avontuurlustig, met ‘n grynslag op sy gesig – altyd gereed om ‘n storie te vertel, met ‘n sagte hart. Hy was ‘n oulike, dierbare en liefdevolle kind wat elke dag gemis word.”

Christiaan word veras en sy gedenkdiens word Maandag om 12:30 by Laerskool Piet Hugo gehou.

Hy word oorleef deur sy ma, ‘n broer en suster, tannie en niggies en nefies.

Heloise bedank almal wat haar en haar gesin in hierdie tyd bystaan.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button