Local News

Mikpunt: Tommies se meesterspeler Logan

Logan Heyman, 'n gr. 9-leerder is een van 10 leerders wat gekies is vir die Limpoposkaakspan en was aangewys as Tommies se junior skaakspeler van die jaar.

POLOKWANE – “Skaak is ‘n sport wat ‘n mens uit jou gemaksone bring. Dit leer jou om uit die boks te dink en hou jou op jou vingerpunte,” vertel Logan Heyman laggend.

Die 15-jarige gr. 9-leerder van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is een van 10 leerders wat gekies is vir die o/16 Limpopospan en onlangs ook aangewys is as die skool se junior skaakspeler van die jaar.

Volgens Logan het hy onlangs eers begin speel.

“Die skaakgogga het my eers in Desember 2021 gebyt. En toe ek eers begin, wou ek nie ophou nie. Ek het by my oom gekuier in Johannesburg vir die skoolvakansie en dis daar waar my neef my geleer het hoe om skaak te speel. Ek het onmiddellik verstaan hoe die spel werk en dadelik verlief geraak daarop,” vertel hy.

Justin Harmse, Logan se neef vertel dat hy baie vinnig gesnap het.

“Aan die begin het hy dalk nog ‘n bietjie gesukkel, maar teen die volgende skoolvakansie het hy my geklop. Eers het ek kwaad geword, want hoe kan die student die teacher wen, maar nou ja. Ek is baie trots op hom en hoe goed hy doen. My raad aan hom is dat hy moet aanhou speel, en verskeie skaakraaisels uitwerk sodat hy verbeter en verskeie tegnieke leer en toepas in sy spel.”

Logan vertel dat Justin, die internet en konstante oefening hom gehelp het om stadig maar seker beter te raak in skaak.

“Ek geniet skaak want nie net is dit ‘n interessante sport nie, maar dit leer my ook sekere vaardighede wat ek in my daaglikse lewe kan toepas. Byvoorbeeld, wanneer die blok benoud word op die bord, kan jy nie paniekerig raak nie. Jy moet kalm bly, sodat jy rustig kan kyk en versigtig die regte skuif maak. So is dit ook in die lewe. Wanneer ‘n mens uitdagings kry, moet jy rustig en kalm bly, voordat jy ‘n besluit neem. Op so manier maak jy nie onnodige foute nie,” verduidelik Logan.

Hy voeg by dat die koningin sy gunsteling stuk op die bord is, want dis die een skaakstuk “wat alles kan doen”.

“Dit motiveer my dat ‘n mens enige iets kan doen of bereik as jy hard werk en die regte skuiwe in die lewe maak.”

Logan se droom is om eendag op ‘n internasionale vlak skaak te speel.

“Ek is baie trots om my skool en ons provinsie te verteenwoordig in ‘n sport waarvan ek baie hou. My wens is om eendag so goed te speel dat ek kwalifiseer as ‘n Grandmaster skaakspeler.”

Sy ma, Olivia Heyman sê sy is baie trots op haar seun. “Toe Logan sê hy gaan aansluit by die skool se skaakspan was ek baie verbaas, want niemand in ons familie het skaak op skool gespeel nie.

“Tennis, netbal en rugby was nog altyd die familiesport op skool. Maar ons het wel ‘n liefde vir bordspeletjies, so dis waarskynlik waar sy liefde vir skaak vanaf stam. Ek het besef hoe ernstig hy oor skaak is, en het toe vir hom sy eerste skaakbord gekoop om hom te help met sy oefeninge by die huis.”

Logan bemoedig ander jongmense aan om skaak ‘n kans te gee “want dit is ‘n baie lekker sport”.

“As ‘n mens dink aan skolesport is dit gewoonlik rugby, netbal, sokker of hokkie.

“Maar vandag wil ek skaak by die lysie voeg,” vertel hy met ‘n glimlag.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button