Hekelwerk vir kreatiewe hande
Eliana Horn (11) het haar kreatiewe aanvoeling deur hekel ontdek, haar eie besigheid geloods en unieke haarbykomstighede gemaak.
POLOKWANE – Eliana Horn (11) het sowat vier maande gelede besluit om ‘n nuwe stokperdjie aan te durf.
Sy het besluit om te begin brei, maar dit het nie uitgewerk soos sy gehoop het dit sou nie en sy het vinnig die breinaalde neergesit.
Tog het die gogga haar reeds gebyt en het sy besluit om te begin hekel.
Eliana ontvang tuisonderrig en is baie kreatief. Sy erken sy hou daarvan om met haar hande te werk.
“Ek het eers met my vinger gebrei en toe oorgegaan na loom voor ek met die hulp van YouTube begin hekel het. My ouma help my ook en ek leer baie by haar. Ons werk lekker saam.”
Sy sê wanneer sy besef daar is ‘n fout in haar werk, soek sy die probleem en die oplossing.
Wilma, Eliana se ma, vertel laggend hoe haar eerste hekelwerk “meer soos ‘n duikboot as ‘n mat gelyk het”.
“Ek hou al haar eerstes en bêre dit. Die eerste wol wat sy gebruik het, het ons uit ouma se versameling gekry, maar nou koop ons soos ons dit nodig het.”
Eliana se besigheid se naam is Haarblomme vir Liefde en bestaan uit haarrekkies wat sy hekel.
Die vinnigste wat sy ‘n rekkie kan hekel is 30 minute maar dié wat fyner detail het, neem langer.
Sy leer ‘n nuwe patroon vinnig aan en beoog om op ‘n latere stadium ander items ook te hekel.
“Ek gebruik ook afvalmateriaal om vir my poppe klere te maak en plastiekbottels om vir hulle meubels te maak. Ek is nou besig om ‘n pers rok vir my Barbie om haar te hekel. Ek geniet dit om Barbie te speel.”
Wilma vertel verder Eliana en haar jonger sussie hou van avontuurspeletjies buite waar hulle items kan bou.
Eliana se rekkies was by die Lentemark by N.G. Kremetart saam met haar ma se produkte verkoop.



