Henkie gee sy eerste tree na ongeluk
Henkie van der Walt het ernstige beserings opgedoen en is met ‘n traumatiese breinbesering in die intensiewe hoësorgeenheid opgeneem.
MOKOPANE – Op 28 Maart 2020 het ‘n ongeluk op die hoek van Geyserstraat en Thabo Mbeki-rylaan die lewe van Henkie van der Walt en sy gesin onherroeplik verander.
Henkie het ernstige beserings opgedoen en is met ‘n traumatiese breinbesering in die intensiewe hoësorgeenheid opgeneem.
Sy vrou, Sonja, vertel dat hy vier weke in die eenheid deurgebring het, gevolg deur 12 weke in ‘n rehabilitasiesentrum.
“Die neurochirurg het min hoop gehad dat Henkie weer sou kon loop. Hy moes intensiewe spraak- en arbeidsterapie ondergaan en is deur talle spesialiste en chirurge behandel. Tot op hede het hy ook al verskeie stamselbehandelings ontvang.”
Die ongeluk het die gesin se wêreld drasties verander.
“Ons moes die lewe soos ons dit voorheen geken het agterlaat,” sê Sonja. “Ons is elke dag dankbaar dat Henkie nog hier is, maar ons moes leer om die ‘nuwe Henkie’ te aanvaar en te ondersteun.”
Die gesin moes hul huis en voertuie aanpas om aan te pas by hulle nuwe realiteit. “Die afgelope vyf jaar was ‘n tuimeltrein van uitdagings,” sê Sonja eerlik.
“Daar was tye waar dit ondraaglik moeilik gevoel het, maar dan sien ek hoe Henkie bietjie vir bietjie verbeter. Dit gee my en die seuns hoop.”
Sy erken dat sy soms wens vir ‘n normale lewe, maar vertrou dat daar ‘n groter plan is.
“Ons aardse lewe is net ‘n fraksie van ons ewige reis. Al verstaan ons nie altyd die pad wat ons moet stap nie, glo ek dat dit ons sterker gemaak het. Ek weet dat hierdie ervaring my ‘n beter ma en vrou gemaak het, en dit het my seuns ook gevorm tot sterker mense.”
Ten spyte van die aanvanklike voorspelling dat hy nooit weer sou loop nie, het Henkie na ongeveer twee jaar sy eerste tree gegee.
“Sommige dae gaan dit beter, ander dae is dit moeilik, maar ons vorder,” sê Sonja met trots.
“Vyf jaar ná die ongeluk is elke dag ‘n bewys van genade en seën. Henkie se neurochirurg is verstom oor sy herstel – wat op sy breinskanderings gesien word, is volgens mediese standaarde onmoontlik.”
Die gesin steun sterk op hul geloof en die ondersteuning van familie en vriende.
“Daar is dae wat ek voel ek kan nie meer nie, maar dan kry ek krag van Bo. Ons sou dit nie sonder ons Vader se genade en die hulp van ons geliefdes kon maak nie.”
As ma moes Sonja beide ouerrolle vervul vir hul twee seuns, Henru en Ruben.
“Daar is soveel dinge wat ‘n pa normaalweg vir sy seuns leer, en ek moes my plek aanpas. Maar ons veg hierdie stryd saam, op ons knieë.”
Henkie ontvang tans vyf keer per week fisioterapie by die huis onder die wakende oog van Gerda Roos Hawken.
“Gerda het soos familie geword, en ons is ongelooflik dankbaar vir haar,” sê Sonja.
Op 4 April ondergaan Henkie sy vierde stamselbehandeling.
“Ons vertrou volkome op ons Vader se genesende hand, maar ons weet ook dat Hy ons dokters, terapeute en vriende die kennis en vermoë gegee het om mense soos ons te help. As jy bid vir ‘n gat in die grond en God gee vir jou ‘n graaf, dan moet jy dit gebruik en begin grawe.”
Een van die grootste oomblikke vir Henkie die afgelope paar jaar was toe hy sy passie vir jag kon uitleef.
“Verlede jaar het hy die voorreg gehad om sy buffel te skiet – ‘n oomblik van triomf en onafhanklikheid vir hom.”
Die gesin is diep dankbaar vir die ondersteuning wat hulle ontvang het.
“Aan ons familie, vriende, versorgers en terapeute – ons het nie woorde om ons dankbaarheid te toon nie. Julle het ons deur die moeilikste tye gedra.”
Maar bo alles, sê Sonja, bly hul grootste steun hul geloof.
“Sonder ons Vader se genade sou ons nie hier gewees het nie. Hierdie reis was moeilik, maar dit het ons sterker gemaak. Ons sal aanhou veg – een tree op ‘n slag.”




