‘Seed of Life’ gee vir haweloses nuwe hoop
‘Seed of Life Collective’ sonder winsbejag is gestig deur Michael Joubert, wat self vir jare op die strate gewoon het.
POLOKWANE – By ‘Seed of Life Collective’ kry haweloses nie net kos en ‘n bed nie – hulle kry ‘n tweede kans op die lewe.
Hierdie organisasie sonder winsbejag is gestig deur Michael Joubert, wat self vir jare op die strate gewoon het.
“Ek was vir 26 jaar ‘n aktiewe verslaafde en het sonder hoop en rigting op die straat gebly,” vertel hy. “Eendag op ‘n strand in Plettenbergbaai het ek vir Jesus ontmoet – en alles het verander.”
Lees hier: ‘n Tweede kans vir Michael Joubert
Daardie lewensveranderende oomblik het Michael se pad bepaal.
Hy sê hy het ‘n duidelike opdrag van God ontvang: om mense wat dieselfde pad as hy gestap het, te help – van wanhoop na waardigheid, van verslawing na doelgerigtheid, en van die straat na ‘n stabiele lewe.
‘Seed of Life’ is meer as net ‘n sopkombuis. Dit is ‘n bediening met die missie om haweloses en verslaafdes te bereik, herstel en herintegreer in die samelewing.
“Ons het al eerstehands gesien hoe lewens verander,” sê Michael. “Met God en die regte ondersteuning is daar altyd hoop.”
Lees hier: Leeukuil Gemeenskap bied hulp en hoop
Seed of Life beskik tans oor ‘n stuk grond in Leeukuil – ‘n nuwe blaadjie met die potensiaal om omskep te word in ‘n toevlugoord waar mense hul waardigheid en menswees kan herwin, maar om dit te bereik, het hulle die gemeenskap se hulp nodig.

“Ons droom is om ‘n volhoubare transformasiesentrum op te rig. Nie net ‘n plek van skuiling nie, maar ‘n ruimte waar mense bemagtig word met vaardighede, geestelike groei en ‘n tweede kans,” vertel Michael.
Deur ‘n vennootskap met Immanuel Construction bedryf ‘Seed of Life’ ‘n vaardigheidsontwikkelingsprogram waarin inwoners praktiese ambagte aanleer soos skrynwerk, messelwerk, loodgieterswerk en konstruksie. Hierdie program help individue om weer op hul eie voete te staan, die arbeidsmark te betree, familieverhoudings te herstel en uiteindelik iets terug te gee aan die gemeenskap.
Om hul visie te verwesenlik, benodig ‘Seed of Life’ dringend hulp met die volgende basiese behoeftes:
Veilige leefruimtes vir verblyf.
Toilette, storte, ‘n kombuis en eetarea.
‘n Boorgat vir volhoubare watervoorsiening.
Sonkrag as koste-effektiewe energiebron.
Essensiële items soos beddens, beddegoed, eetgerei en breekware.
“Elke lewe maak saak. Elke mens verdien ‘n tweede kans. Jy kan deel wees van hulle storie,” sê Michael. Enigeen wat ‘n bydrae wil maak, kan Michael Joubert kontak by 063 905 4665.




