Local News

Doodgewone dag word ‘n dolfyn-droomdag vir Anuska (14)

Reach for a Dream het Anuska Deyzel se ma gekontak en 'n ontmoeting met 'n dolfyn moontlik gemaak.

POLOWKANE – Toe Anuska Deyzel (14) vroeg een oggend in Julie opstaan, het wat ‘n doodgewone oggend sou wees vir haar in ‘n droomdag ontaard.

Sy, haar ma, Natanya, en ouboet Xander, het beplan om die dag by uShaka Marine World deur te bring.

Anuska is lief vir diere en die kans om deur dié onderwater-wêreld te stap was vir haar ‘n blye vooruitsig.

Anuska is sowat ‘n jaar gelede met ‘n hoëgraadse glioom gediagnoseer – ‘n gewas so groot soos ‘n tennisbal op haar breinstam.

Die grootste deel is chirurgies verwyder, maar ‘n klein gedeelte kon nie sonder groot risiko verwyder word nie.

Reach for a Dream, ‘n organisasie wat kinders met lewensbedreigende siektes se drome waar maak, het met Natanya kontak gemaak en die uitstappie moontlik gemaak.

Anuska Deyzel (14) se droom om ‘n dolfyn te soen, word waar.

“Iets waarvan ek nog altyd gedroom het, was om ‘n dolfyn te soen. Terwyl ons die rob- en dolfynvertoning gekyk het, het hulle my nader geroep. Ek kon hulle voer en selfs die een dolfyn soen. Dit was regtig ‘n droom wat waar geword het,” het Anuska vertel.

Natanya sê dit was vir die hele gesin ‘n ervaring om te onthou. “Reach for a Dream het ons van begin tot einde bederf. Anuska het nie geweet sy gaan so naby aan die dolfyne kom nie. Die personeel het mooi met haar gesels en verduidelik hoe sy hulle kon aanraak. Sy was op ‘n ander planeet, dit was ‘n groot voorreg vir haar.”

Melinda Naidoo, spanleier van Reach for a Dream, sê Anuska se opgewondenheid kon aangevoel word.

“Haar oë het geblink toe sy besef sy gaan ‘n dolfyn ontmoet en voer, en selfs soen. Dit was geen gewone dag nie. Dit was ‘n droom wat werklikheid geword het.”

Natanya sluit af: “Ek dink Anuska moet deesdae net kop bo water hou en sterk swem om haar lewe en skoolaktiwiteite weer agtermekaar te kry. Sy is dankbaar vir elke dag wat sy hier is.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button