Local News

Gerat, gereed… dis Kierieklapper Kunstefees

Of jy op soek is na 'n handgemaakte leerprodukte, of jy jou klerekas wil opgradeer, dié Kierieklapper Kunstefees bied iets vir elke sak en smaak.

MOKOPANE – Skud jou vere reg, maak jou litte los en maak jou spaarvarkie leeg vir die 25ste Kierieklapper Kunstefees wat weer ‘n groot verskeidenheid stalletjies en vir hope pret gaan sorg.

Na ‘n uiters suksesvolle fees in Augustus verlede jaar, wat deur ‘n groot aantal feesgangers besoek is, is die fees vanjaar weer volstoom aan die gang van 7-9 Augustus op Hoërskool Piet Potgieter se gronde.

Of jy op soek is na ‘n handgemaakte leerprodukte, of jy jou klerekas wil opgradeer, dié fees bied iets vir elke sak en smaak.

Hoewel dit ‘n heerlike uitstappie vir die hele gesin is, bly die fokus van die fees om geld in te samel vir die bejaardes van die Dienssentrum vir Bejaardes, en om seker te maak hulle kan solank as moontlik selfstandig en onafhanklik funksioneer.

Die fees is een van die belangrikste geldinsamelingsprojekte van die dienssentrum, dit sorg dat daar daagliks ‘n bord kos voorsien word asook aan ander behoeftes.

Die komitee is baie opgewonde om die naweek weer saam met die gemeenskap te kan kuier en om ‘n verskil te maak in die bejaardes se lewens.

Die naweek beloof ‘n opwindende en propvol program met selfs die gewilde gholfdag wat Saterdag plaasvind.

Vir die fikses is daar ‘n pretdraf met groot pryse wat Saterdagoggend om 06:00 vir 07:00 wegspring. Die wegspringpunt is in Pretoriusstraat. Daar is weer ‘n gasvrou geleentheid waar Mel die Storieverteller in die skoolsaal die gaste se maagspiere gaan laat prikkel.

Kunstenaars soos Mr Bones – kindervermaak, Mirandi, Piesangskille, Lu-Anel, Dillon Lerm, Danny Smoke, Snotkop, Francois Bouwer, Barto Swiegers en Droomsindroom gaan sorg vir lekker voetstamp oomblikke op die verhoog.

Mej. KKKF vind plaas Saterdag op die hoofverhoog vanaf 09:30. Kaartjies is by die hekke beskikbaar en die komitee versoek dat daar asseblief met kaart betaal word.

Die kaartjiekantoor open daagliks om 09:00 en sluit om 21:30. Donderdag kos R120 per persoon, Vrydag R140 per persoon en Saterdag R160 per persoon.

Laerskoolkinders en pensionarisse betaal R60 per persoon en toegang vir voorskoolse kinders is gratis.

Die hekke in Pretoriusstraat word gebruik as ingangshek vir die fees. Die komitee nooi die gemeenskap uit om deel te wees van die feesvieringe, alles vir ‘n goeie doel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button