Local News

Geliefde Potties-inwoner só onthou

Oom Des Williams laat sy twee kinders, kleinkinders, skoonseun en skoondogter agter – saam met die goeie voorbeelde wat hy gestel het.

MOKOPANE – Geliefde inwoner, Des Williams is op 8 Augustus ter ruste gelê.

Oom Des is op 26 Augustus 1948 op Zebediela gebore, waar hy in sy grootwordjare kosbare lewenslesse geleer het.

Sy hoërskoolloopbaan het hy aan Capricorn Hoërskool in Polokwane voltooi voordat hy sy eerste werk by Everite in Polokwane begin het.

Dit was ook in hierdie tyd dat Petro sy hart gewen het, en kort voor lank was die twee verliefdes getroud.

Nuwe horisonne het vir die jong egpaar gewink toe hulle na Mokopane verhuis.

Oom Des het sy loopbaan by United Bank, wat vandag as Absa bekendstaan, voortgesit. Tog het hy gou gevoel dat hy meer met sy lewe wou aanpak en na ‘n paar jaar het hy besluit om sy horisonne te verbreed.

Oom Des Williams.

PG Glass, destyds nog oorkant die Mogalakwena Munisipaliteit, het sy belangstelling geprikkel.

Hy het daar sy voete ingesit en uiteindelik sy eie besighede begin: die troeteldierwinkel ‘Die Rooi Kanarie’, gebore uit sy liefde vir diere, en later Glass en Aluminium 2000.

Jare later het sy kinders Brendon en Chantelle ook by die besigheid ingeval, ‘n onderneming wat vandag al 35 jaar sterk staan.

Sy gesondheid het hom deur die jare heen soms ingeperk, en op 31 Julie, in die ouderdom van 76 jaar, het hy sy laaste asem uitgeblaas.

“Ons Pa was altyd ‘n bok vir sports en vol grappe,” vertel sy kinders.

“Maar die een les wat ons nie gou sal vergeet nie, en wat ons ook aan ons kinders oordra, is sy woorde: ‘As jy ‘n ding wil doen, doen dit nou, daar is nie so ding soos môre nie.’”

Oom Des laat sy twee kinders, kleinkinders, skoonseun en skoondogter agter – saam met die goeie voorbeelde wat hy gestel het en die kosbare herinneringe wat altyd sal voortleef, in hul harte sowel as in die gemeenskap.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button