Local News

Na ernstige motorongeluk bly Ruanda Snyman positief

Bykans elke been in haar liggaam was gebreek en dokters het vir Ruanda Snyman se ouers gesê die kans om te bly leef, is skraal.

POLOKWANE – Toe Ruanda Snyman 20 jaar gelede in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was, het haar hele lewe verander.

Bykans elke been in haar liggaam was gebreek en dokters het vir haar ouers gesê die kans om te bly leef, is skraal.

“Ek was 18 jaar oud toe ek en ‘n vriend in die ongeluk was. Ek was uit die motor uitgeslinger en het in ‘n sloot beland. Die eerste mense op die toneel het alles gesteel, selfs ons ID-boekies. Teen die tyd dat die paramedici opgedaag het, het hulle nie geweet daar is ‘n tweede persoon nie, en hulle het net my vriend gehelp en hospitaal toe geneem.”

Gelukkig vir Ruanda het daar ‘n insleepvoertuig gekom om die toneel skoon te maak en dit is toe dat hulle Ruanda gewaar.

Sy is na die naaste hospitaal geneem, maar dié het nie dokters of toerusting gehad om haar te help nie.

“Ek is na ‘n privaat hospitaal geneem, maar my ouers moes ‘n yslike deposito neersit voor ek gehelp kon word. Die dokter het vir my ouers gesê om eerder tyd saam met my te spandeer as om geld bymekaar te maak, aangesien ek nie baie tyd oor het nie. My ouers het toe besluit om my na ‘n akademiese hospitaal te neem al het die dokter hulle verseker dat ek nie die rit sal oorleef nie.”

By die hospitaal moes hulle haar op lewensondersteunende masjiene sit en haar ouers moes hoor Ruanda sou nooit weer kon loop of kinders hê nie en ook nooit sou kon werk nie.

Ruanda het egter die dokters verkeerd bewys en begin loop en ‘n normale lewe lei.

Sy ervaar egter permanent pyn regdeur haar liggaam en verlede jaar het haar lyf in eengestort. Sy kon nie loop, haar hare was of selfs inkopies doen nie. Sy het uitgevind haar liggaam is oortrek met inflammasie en dat dit is wat die pyn veroorsaak het.

Sy het ook aan angs, post-tramatiese spanning en atritis gelei, en is met bloedarmoede en ‘n maagseer gediagnoseer.

Ruanda het weer ‘n dokter gekonsulteer.

“Hy het vertel dat soos jy ouer word, jou stamselle minder word. Ons stamselle maak ons liggaam gesond. Hy het toe vir my ‘n plakker gegee en sodoende my lewe verander. Dié plakker heraktiveer jou liggaam se stemselle en die oomblik wat dit begin werk, verbeter jou toestand.”

Ruanda het ook osoonterapie ondergaan en kon na ‘n paar sessies osoonbehandeling en kinesioterapie ‘n duidelike verskil in haar gesondheid sien.

“Die ontgiftingsbehandeling wat ek gekry het, maak my immuunsisteem sterker en so kan my liggaam homself herstel. Dit was nie ‘n vinnige herstelproses nie, maar vandag kan ek weer loop. Ek kan weer motiveringspraatjies gee, berading doen en selfs kinders tutor,” het sy afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button