Motorfietsryers geniet Byjol
Vanjaar se Byjol Rally is ingesamel vir die APD Limpopo Eeufeeshuis in Polokwane, 'n vereniging vir persone met gestremdhede.
MOKOPANE – Altesaam 420 motorfietsryers van verskeie klubs regoor die land het die wind die naweek trotseer en by die Olifant Oasis buite Mookgophong byeengekom vir die jaarlikse Byjol Rally.
Dit is die 17de agtereenvolgende geldinsamelings van dié aard wat die motorfietsryers aanbied.

Vanjaar se opbrengs is ingesamel vir die APD Limpopo Eeufeeshuis in Polokwane, ‘n vereniging vir persone met gestremdhede.

Verskeie kosstalletjies het die monde behoorlik laat water en die goederestalletjies met hul unieke ware soos juwele, kopbene, valhelms en klere het motorfietsryers twee keer laat kyk. Die motorfietsryers kon ook in die ry staan om nog ‘n tatoeërmerk te kry.
Leier Ettienne Meintjies van Just Numbers MCC wat vanjaar se Byjol Rally aangebied het, vertel dat die naweek ‘n groot sukses was en daar ‘n gunstige bedrag ingesamel is wat eersdaag aan die Eeufeeshuis oorhandig gaan word.

“Die Eeufeeshuis is vir ons as organisasie baie na aan die hart. Die personeel doen wondere vir hul inwoners en dis vir ons ‘n groot voorreg om gereelde insamelings te hou om die huis finansieel by te staan,” het Ettienne gesê en bygevoeg dat liefdadigheid vir motorfietsryers ‘n groot prioriteit is.
“Ons hou gereeld insamelings vir verskeie doelwitte, onder meer Gabriela Els (10) van Polokwane. Sowat drie jaar gelede het Gabriela haar talent ontdek en dans tans by Rising Stars dansstudio in Polokwane. Sy het al aan ‘n hele paar kompetisies deelgeneem en baie uitdagings oorbrug om haar passie te kon uitleef. Hierdie meisie het ook al oorsee deelgeneem.”

Bronwyn-Leigh Jenkins en Jaco Sekelbos het gesorg vir die vermaak, en na die massarit na BouncyCroc krokodilplaas was elke motorfietsryer gemotiveerd om aan die talle speletjies en uitdagings van die dag deel te neem.
Die naweek is afgesluit met ‘n kerkdiens waar elke motorfietsryer ‘n bemoedigende boodskap ontvang het.




