Temperamente: Is jy geel, groen, rooi of blou?
Lynette Beer, die stigter en direkteur van 'Seeds of Inspiration', het onlangs in Polokwane besoek afgelê om haar bekende Vier Kleur Temperament Model bekend te stel.
POLOKWANE – Mense sal jou dalk vreemd aankyk as jy sê jy is geel, groen, rooi of blou, maar as hulle verstaan het wat jy bedoel, sou daar heelwat minder misverstande en konflik wees.
Lynette Beer, die stigter en direkteur van ‘Seeds of Inspiration’, het onlangs in Polokwane besoek afgelê om haar bekende Vier Kleur Temperament Model bekend te stel. Hierdie model is ontwerp om mense te help om nie net hulleself beter te verstaan nie, maar ook dié rondom hulle.
Sy vertel van ‘n voorval in die gimnasium: “Ek het ‘n vrou gesien wat met volle oorgawe en handelsnaamklere kom oefen het, sweetbandjies en alles, maar sy gebruik die apparaat heeltemal verkeerd. Toe besef ek: hier is iemand wat alles reg doen: Sy het opgestaan, reg aangetrek, op die regte plek opgedaag – maar wat sy doen, doen sy verkeerd.”

Volgens Lynette begin ons almal elke dag met goeie bedoelings, maar ons sien die wêreld deur verskillende ‘vensters’ anders as ons mans, kinders of bure.
“Die mooiste dag in jou lewe is wanneer jy agterkom wat God se doel vir jou is. As jy dit weet, sal jy nie meer met ‘n lae selfbeeld worstel of jouself met ander vergelyk nie. Jy sal verstaan dat God van jou gedroom het, en dit gee betekenis aan jou lewe.”
Sy beklemtoon ook dat ware groei slegs plaasvind wanneer jy ophou om jouself konstant te verdedig teen die waarheid wat ander jou probeer wys.
“As jy besluit om iets in jou lewe te verander, moet jy vra: hoe gaan ek dit doen, en hoe lank gaan dit hou? Jy kán nie jou gedrag verander as jy nie verstaan waar dit vandaan kom nie, of wat dit is wat jy probeer verander nie.”
Lynette verwys na Hippokrates, wat reeds eeue gelede mense in vier temperamente geklassifiseer het. Sy sê: “Hy het agtergekom sekere mense maak jou moeg, en dit is vandag nog so. Hy het gepraat van vier temperamenttipes:
Sanguinies (geel)
Choleries (rooi)
Melancholies (blou)
Flegmaties (groen)
Elke kleur het natuurlike begeertes:
Geel: Pret en avontuur
Rooi: Beheer en uitdagings
Blou: Perfeksie en feite
Groen: Vrede en stabiliteit
“Ons optrede word grootliks bepaal deur die kleur van ons temperament. Dit beïnvloed hoe ons na die wêreld kyk, en hoe ons met ander omgaan,” sê sy.
Sy sluit af: “Jy kan nie iets gee wat jy self nie het nie. Alles begin by eiewaarde, om te weet wie ek is, en wie jy is. Jou temperament is deur God gegee en kan nie verander nie. Jou persoonlikheid ontwikkel met tyd, beïnvloed deur eksterne faktore. Maar die manier waarop jy na die wêreld kyk, bepaal uiteindelik wie jy is.”
Die geleentheid is aangebied deur Solidariteit Helpende Hand se Limpopostreek.




