Blou Bul-truie vir dié oud-HPP leerders
Die Limpopo Blou Bulle o/21-span neem deel aan die SA Rugby o/21 Skildtoernooi, waarin nege provinsiale spanne in twee streeksafdelings meeding.
MOKOPANE – Twee oud-skoliere van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) en talentvolle spelers van Potgietersrus Rugbyklub, Marnus Venter en Henco Hugo, is onlangs gekies vir die Limpopo Blou Bulle o/21-span.

Vir Henco is dit ‘n groot eer om deel van die span te wees. Hy glo sy plek in die span is die vrug van harde werk, en ‘n bietjie geluk.
“Ek speel rugby vir die liefde van die sport. Ek sien myself oor vyf jaar steeds rugby speel vir die dorp,” sê hy. Sy raad aan jong spelers is eenvoudig maar kragtig: “Oefen hard en maak elke geleentheid tel.”

Marnus sê hy voel trots en geëerd om vir Limpopo te speel.
“Dit was nog altyd my visie om die span te haal. Aan die begin van die jaar het ek vir my vriende gesê ek wil die beste slot in Limpopo wees, en nou is ek op pad daarheen.” Al weet hy nog nie waar hy homself oor vyf jaar in die sport sien nie, is hy vasbeslote om enige verdere geleentheid met albei hande aan te gryp. “Moet nooit opgee nie. Hou aan probeer, is my raad aan enigeen wat eendag ook hier wil wees.”

Die Limpopo Blou Bulle o/21-span neem deel aan die SA Rugby o/21 Skildtoernooi, waarin nege provinsiale spanne in twee streeksafdelings meeding. Die suidelike afdeling sluit Boland, Grens, Oostelike Provinsie en SWD in, terwyl die noordelike afdeling bestaan uit die Pumas, Harmony Griffons, Griekwas, Valke en Limpopo.
Die spanne met die hoogste punte in elke afdeling dring deur na die halfeindronde, met die wenners wat in die finaal sal sake uitspook.

Dit was ‘n groot eer vir HPP en die Potgietersrus Rugbyklub om die derde ronde van die toernooi aan te bied.
Die Limpopo Blou Bulle het op HPP se rugbyveld hul kragte gemeet teen die Harmony Griffons in ‘n taai wedstryd. Die Griffons het egter hul stempel afgedruk en die wedstryd met ‘n oortuigde telling van 91-29 gewen.
Die Limpopo Blou Bulle o/21-span speel hierdie Saterdag teen die Griekwas o/21 in Kimberley.




