Local News

Kowie White – ‘n Lewe vol kuns, kleur en kleremaak

Kowie White (85) is onlangs oorlede en word onthou as 'n geesdriftige en skeppende mens.

POLOKWANE – Die naam Kowie White (85) is sinoniem met kleur, kuns en kleremaak.

Sy is onlangs oorlede en word onthou as ‘n geesdriftige en skeppende mens.

Haar dogter, Joanie Lewis, vertel dat geen skepping ooit te moeilik vir haar ma was nie.

“Sy was ‘n uitblinkerkleremaker, van trourokke, formele drag, ontelbare matriekafskeidsrokke, dooprokke tot temakostuums, niks was onmoontlik nie,” sê Joanie.

Kowie se kliënte onthou haar geesdrif, vernuf en speelsheid waarmee sy selfs die vreemdste of mees uitheemse idees met gemak laat leef het. Baie van hulle was derde generasie kliënte.

“Haar talent het nie by klere opgehou nie. Sy het poppe, speelgoed en marionette gemaak, en was ewe begaafd met pottebakkery, materiaalverf, houtsneewerk, borduurwerk, hekel- en breiwerk, skilderkuns en brandskilder,” vertel Joanie.

Kowie White.

Kowie, gebore in die Bosveld, het haar skoolloopbaan voltooi aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, waar sy reeds op ‘n jong ouderdom in kuns uitgeblink het.

Sy en haar man, George, het vier dogters saam grootgemaak.

Na George se afsterwe het Kowie by een van haar dogters in Pretoria gaan woon.

Selfs op ‘n gevorderde ouderdom het sy die tuin daar omskep in ‘n lushof vol selfgemaakte pottebakkersbeelde, klipkuns en ander werke.

Haar kleinkinders onthou met heimwee die feetjietuin met paddastoelhuisies, kleikaraktertjies en bont geverfde klipkuns wat hul verbeelding aangegryp het.

Joanie vertel dat sy en haar susters trots hulle ma se skilderye in hul huise vertoon.

“Elke doek vertel ‘n eie verhaal van plekke, geleenthede en mense. Net so leef Kowie se handewerk voort in fyn hekelwerk, bont matte en komberse.

“Haar luide stem en helder lag was só kenmerkend van hierdie statige vrou. Sy het ons geleer dat ‘n vrou nooit sonder lipstiffie en oorbelle reg is nie. Sy het ons geleer om te lag, lief te hê, planne te maak, kreatief te wees, om jou mense eerste te stel en elke ervaring met oorgawe te geniet. Om luidkeels te kuier, sag te wees met iemand se seer, hard te lag en sag te huil.”

Kowie word oorleef deur haar vier dogters en skoonseuns, sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button