Local News

Die groot vraag: Waar kom ek vandaan?

Wanneer jou kind vra, “Waar kom ek vandaan?”, is dit 'n geleentheid om vertroue te bou en belangrike waardes rondom liggaams-bewustheid en veiligheid vas te lê.

POLOKWANE – “Pappa, waar kom ek vandaan?”

Dié eenvoudige, maar deurslaggewende vraag kan enige ouer se hartklop versnel en ‘n droë mond laat. Met Mamma dalk reeds taktvol uit die vertrek, staan Pa nou alleen voor een van ouerskap se meer uitdagende oomblikke.

Dis egter ‘n vraag wat vroeg of laat opduik in elke kind se grootwordpad – en nee, dit gaan nie daaroor of hy van Polokwane kom en sy maatjie van Mokopane nie.

Maatskaplike werkers Sonja Prozensky en Linda Pieterse het onlangs ‘n praktiese inligtingsessie vir ouers van jong kinders aangebied om hulle toe te rus met die regte kennis en hanteringswyses om hierdie vrae eerlik, maar kindervriendelik, aan te spreek.

Volgens Prozensky is dit belangrik dat ouers aanvaar dat kinders in die moderne wêreld onverbiddelik aan seksuele inligting blootgestel gaan word.

“Dit is nie iets wat jy kan vermy of jou kind teen kan beskerm nie,” sê sy. “Wanneer jy nie eerlik antwoord nie, raak jou kind nuuskierig en gaan self op soek, en dikwels by minder betroubare bronne.”

Pieterse voeg by dat kinders op verskillende ouderdomme deur spesifieke ontwikkelingsfases beweeg, en dat ouers se reaksie op hul vrae en gedrag ‘n direkte invloed het op hul emosionele groei.

“Kleuters tussen drie en vyf jaar oud is in die stadium waar hulle eksperimenteer met inisiatief en hul eie identiteit begin vorm. As ‘n ouer hulle ontmoedig of laat skuldig voel oor hulle vrae, kan dit hul selfbeeld ondermyn.”

Kinders in hierdie ouderdom dink nog baie konkreet.

Hulle verstaan feite, maar nie abstrakte of grafiese konsepte nie. Hul aandagspan is ook kort, en dit beteken dat ouers eenvoudige, eerlike antwoorde moet gee sonder onnodige detail.

“By jong kinders gaan seksuele opvoeding nie oor seks nie, maar oor liggaamsbewustheid,” verduidelik Prozensky. “Leer jou kind dat die dele van die liggaam wat die swembroek bedek privaat is. Só stel jy grense en bou jy ‘n fondament van veiligheid.”

Sy beklemtoon verder die belangrikheid daarvan om die korrekte anatomiese benamings aan kinders te leer. Dit bevorder nie net liggaamsrespek nie, maar beskerm kinders ook.

“Kinders wat die regte woorde gebruik, is minder geneig om slagoffers van seksuele misbruik te wees. Pedofiele vrees hierdie kinders, omdat hulle met presisie kan vertel wat gebeur het, en dis dinge wat in ‘n hof saakmaak.”

Beide waarsku teen paniek, maar moedig waaksaamheid aan wanneer dit by kinders se gedrag kom. Normale gedrag sluit in wanneer kinders aan hulself raak uit nuuskierigheid of omdat dit lekker voel, sonder seksuele betekenis.

Ouers moet kalm en ondersteunend reageer. Geseksualiseerde gedrag is egter ‘n rooi vlag: dit is aanhoudend, eksplisiet en sluit nabootsing van volwasse seksuele gedrag en taal in. Dit dui gewoonlik op onvanpaste blootstelling.

“As ‘n kind se gedrag nie ouderdomstoepaslik is nie, is dit tyd vir ernstige gesprekke en moontlik professionele hulp,” sê Pieterse.

Wanneer jou kind vra, “Waar kom ek vandaan?”, is dit nie net ‘n vraag oor biologie nie.

Dit is ‘n geleentheid om vertroue te bou, eerlikheid aan te moedig en belangrike waardes rondom liggaams-bewustheid en veiligheid vas te lê.

Met ‘n kalm benadering en ouderdoms-toepaslike antwoorde, kan ouers hulle kinders toerus met kennis, selfrespek en die gereedskap om hul eie grense te verstaan – iets wat lank ná daardie aanvanklike vraag relevant bly.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button