Local News

Kapelaan groet Mokopane na jare se diens

Kapelaan Dawie Kotze tree af ná 17 jaar in Mokopane en kyk terug na 'n leeftyd van diens, geloof en gemeenskapsondersteuning.

MOKOPANE – Welbekende kapelaan Dawie Kotze het die plaaslike gemeenskap onlangs gegroet om sy aftrede in George saam met sy familie te gaan geniet.

Kotze is in Polokwane gebore en het in 1982 aan die Hoër Handelskool gematrikuleer.

In 1983 het hy sy studies aan die Randse Afrikaanse Universiteit begin, waar hy sy BA, honneur- en meestersgraad voltooi het, met ‘n verhandeling getiteld ‘Die personifikasie van Jerusalem in die boek Klaagliedere’.

Die ywerige jongman het in 1991 by die polisie aangesluit.

“God het my geroep om te dien en dit was my inspirasie vir die polisiediens. Ek is geroep om ‘n verskil te maak,” sê Kotze.

Hy was eers in Polokwane gestasioneer, het tussen 1994 en 2000 in Modimolle diens gedoen, en van 2000 tot 2007 in Graaff-Reinet en uiteindelik van 2008 tot sy aftrede in Oktober 2024, in Mokopane gewerk.

Kotze vertel dat hy vir jare betrokke was by die Dienssentrum vir Bejaardes, insluitend twee termyne as voorsitter.

Hy het ook gehelp met die reëlings van die Kierrieklapperfees en was betrokke by die kankervereniging, skole en kerke in die dorp.

“Ek het gereeld by kerke gepreek en hulp verleen waar dit nodig was,” voeg hy by.

Sedert sy aftrede hou Kotze hom besig in George deur sterwingsbegeleiding te doen en kos aan haweloses uit te deel elke tweede Sondag.

Hy reël steeds oorsese toere en help met preekbeurte in verskillende kerke, asook by die ongevalle-afdeling van die plaaslike hospitaal elke Saterdag.

“Ek is aktief, speel muurbal, hardloop halfmarathonne, doen die ParkRun elke Saterdag en ry fiets,” vertel hy.

Hy geniet die kosbare tyd nou saam met sy familie en vriende.

“My aftrede is besig, maar om by soveel organisasies betrokke te bly hou my jonk. Dit was ‘n voorreg om vir 17 jaar in Mokopane te dien en die werk te doen waarvoor God my geroep het naamlik om daar te wees vir mense in nood en om Sy opdrag uit te voer, soms met woorde maar meestal deur dade.

“Ek glo ek sal onthou word as iemand wat die regte ding gekies het, nie die gewilde nie. Ek het opgestaan vir diegene wat nie self kon nie. Mag Mokopane met God se genade van krag tot krag gaan.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Tanaiya Lees

Tanaiya Lees is the Digital Coordinator for the Polokwane Review-Observer and the Letaba, Phalaborwa, Hoedspruit, Mopani, and Regional Herald. She holds a Diploma in Journalism, and a BA in Communications and Psychology. With an interest in storytelling and a strong commitment to accuracy, her goal is to produce high-quality content that truly connects with readers. She aims to amplify the voices of those who need it most, shine a light on important issues, and inspire meaningful conversations. Tanaiya firmly believes in the power of journalism to effect change and is dedicated to being a part of that change.

Related Articles

Back to top button