Kersfees deur klein Eben se oë
Die feestyd kry dikwels nuwe betekenis wanneer daar ‘n nuwe bondeltjie vreugde in die huis is. Een ouerpaar vertel meer oor hulle planne hierdie Kerstyd, en hoe hulle saam aan daardie eerste herinneringe begin bou.
POLOKWANE – Kersfees kry ‘n nuwe betekenis wanneer daar jong kinders in die familie is. Die boom, die flikkerliggies en die opgewondenheid van geskenke kry nuwe betekenis wanneer dit deur die oë van ‘n kind beleef word. Vir baie ouers is daardie eerste Kersfees saam met hul kind iets besonders.
By die Hamman-familie is dit presies die geval. Hoewel sewe-maande-oue Eben dalk nog nie presies weet wat aangaan nie, sien sy ouers, Izandi en JP, baie uit daarna om hierdie feestyd saam met hom te vier.
’n Onvergeetlike begin
Izandi onthou hoe hulle uitgevind het Eben is op pad: “Dit was nog vroeg in my swangerskap toe ek ’n toets gedoen het. Dit was positief. Ons het nog twee toetse gedoen net om seker te maak. Die werklikheid het eers later ingesink, maar ons was dadelik opgewonde en kon nie wag om ons families te vertel nie.”
Vir die Hammans is familie belangrik, en hulle gebruik die feestyd graag om tyd saam met geliefdes deur te bring. Hierdie jaar wil hulle egter seker maak dit is ekstra spesiaal, veral vir Eben. JP vertel opgewonde hoe hy reeds maande gelede vir Eben ’n speelgoedtrekker gekoop het. “Ek sien ook uit daarna dat Eben binnekort kan begin swem, ek het vir hom ’n oulike swemring met ’n afdakkie gekoop,” sê hy.
Izandi dink daaraan om vir Eben Kersfeesklere in ’n Rudolph the Red-Nosed Reindeer-tema aan te skaf. “Hierdie jaar voel regtig besonders. Ons sien uit daarna om hierdie tyd saam met Eben en ons families deur te bring,” sê sy. JP en die ander mans in die familie beplan ook om gholf te speel, iets wat hy hoop om eendag saam met Eben te kan doen.
As nuwe ouers sien JP en Izandi met bewondering hoe ander gesinne hulle tyd saam vier, en hoop om nou hul eie tradisies te begin. “Om ouers te wees is ’n groot seën. Ons sien uit na alles wat die toekoms vir ons gesin inhou,” sê Izandi.
JP se raad aan ander jong ouers: “Geniet elke oomblik saam met jou kind. Moenie die tyd verby wens nie. Kyk hoe hulle groei en verander. En die belangrikste, beperk skermtyd so veel as moontlik.”




