Tzaneen trots: Merensky wen Soutpansberg Interhoër
Merensky Landbou Akademie wen die Soutpansberg Interhoëratletiek, stel rekords en spog met medaljes in ’n dag vol aksie en gees.

POLOKWANE – Die jaarlikse Soutpansberg Interhoëratletiekbyeenkoms is Vrydag by Merensky Landbou Akademie aangebied en atlete, toeskouers, gaste en sanggroepe het deurgaans vir aksie, vermaak, toejuiging en seepgladde verloop van aktiwiteite gesorg.
Atlete het hul beste voetjies voorgesit, hetsy in veld- of baanitems.
Sommige het met die doel gegaan om eerste plekke te verower of om selfs ‘n rekord op te stel.
Deelnemende skole was Merensky, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Louis Trichardt, Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Hoërskool Frans du Toit, Northern Academy, Curro Heuwelkruin en Hoërskool Eric Louw.
Dit was Merensky wat met die algehele oorwinning weggestap het met 1 212 punte. Kort op hulle hakke was PHS met 1 022.5 punte gevolg deur Louis Trichardt met 942.5 punte.
Merensky spog met 46 goue, 43 silwer en 31 brons medaljes vir die dag.
Hulle spogatleet was Leandré de Lange (o/17) wat vier rekords opgestel het: in die 100m-hekkies (14.91 sekondes), hoogspring (1.60m), verspring (5.50m) en driespring (11.30m). PHS het vir 98 medaljes in die sak gesorg en Louis Trichardt is terug huis toe met 80 medaljes.
Pietie-atlete Jordan Smith (o/17: 100m, 200m en 400m), Nolan Pieterse (o/16: 200m en verspring) en Johan van Wyk (o/16: gewigstoot) is tans rekordhouers in hulle afsonderlike items.
Leané Nagel en Jordan is onderskeidelik as junior Victrix Ludorum en senior Victor Ludorum aangewys.
Triegies het ook vyf atlete wat rekords opgestel het en hulle spog met Temi Jegede as junior Victor Ludorum en Chrizette Odendaal as senior Victrix Ludorum.
Plaaslike skoolprestasies
Hoërskool Pietersburg
Algehele naaswenners van die byeenkoms en verower 98 medaljes vir die dag.
Rekords:
- Nolan Pieterse – verspring en 200m
- Johan van Wyk – gewigstoot
- Jordan Smith – 100m, 200m en 400m
Individuele prestasies:
- Beste dirigent (seun): Lourens Swanepoel
- Beste junior meisiesbaanatleet: Leané Nagel
- Beste senior seunsbaanatleet: Jordan Smith
- Beste senior seunsveldatleet: Johan van Wyk
- Beste enkele prestasie (seun): Johan van Wyk
- Junior Victrix Ludorum: Leané Nagel
- Senior Victor Ludorum: Jordan Smith
Spanprestasies:
- Beste skool: Naellope
- Beste skool: Diskus
- Beste dirigente-opkoms
Hoër Tegniese Skool Tom Naudé
Verwerf algehele vierde plek met 67 medaljes.
Rekords:
- Pitjeng Maleka – 100m en 200m
Spanprestasie:
Seunspan behaal ‘n algehele tweede plek.
Meisiespan behaal ‘n algehele vierde plek.
Northern Academy
Eindig algeheel sesde met 20 medaljes.
Rekords:
Letlotlo Monama – 3 000m
Curro Heuwelkruin
Eindig algeheel sewende met 11 medaljes.
Klik hier en geniet die beste oomblikke van die Interhoër in ons fotoversameling.




