Local News

By HPP in Mokopane laat Bianca se kwas die mure praat

Bianca van der Horst, ’n leerder van Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane, verfraai die skool en koshuis met inspirerende muurkuns.

MOKOPANE – Bianca van der Horst, ‘n gr. 11-leerder van Hoërskool Piet Potgieter (HPP), begin vir haarself ‘n naam maak in die kunswêreld deur haar kreatiwiteit, passie en unieke uitkyk op die wêreld.

‘n Passie wat vroeg begin het

Wat begin het as ‘n liefde vir teken, het gegroei tot ‘n talent wat die aandag van onderwysers trek.

“Vandat ek kan onthou en ‘n potlood kon optel, wou ek my verbeelding op papier neersit,” sê sy.

Deur toewyding en verbeelding verander sy leë mure in betekenisvolle kunswerke en bewys dat ouderdom geen hindernis is wanneer dit by talent en uitdrukking kom nie.

Kuns bring HPP se mure tot lewe

Surita Oosthuizen het Bianca genader om die skool en koshuis te verfraai, en sy het dadelik die geleentheid aangegryp om die Elsie Maria Koshuis, die historiese gebou, te versier.

Bianca van der Horst verf een van die teëls in die koshuis.

Sy het inspirasie geput uit die hoofgebou se delft-teëls.

Met vryhand skilder sy elke ontwerp noukeurig en sorg dat die kunswerk van ‘n hoë gehalte is.

Sy sê haar inspirasie kom van enige verbeeldingryke item.

In die skoolsaal het sy byvoorbeeld ‘n ruimtevaarder geskilder by die brandblusser, wat die prentjie laat lyk asof hy sy suurstofsak dra en die ruimte verken.

“Ek beskryf my kunswerk as ‘whimsical’ en ‘magical’, aangesien al my kuns sprokiestemas het. My grootste inspirasie is Dina Rebekka Norlund se storieboek-fantasie-styl,” sê Bianca.

Sy is trots op haar werk wat op die skool se mure vertoon word en voel bevoorreg om deel te wees van die opknapping van die skool.

Bianca van der Horst se kunswerke in die koshuis.

“Van leerders tot oud-onderwysers het my werk geprys, en dit maak my baie gelukkig.”

Groot drome vir die toekoms

Vir die toekoms hoop sy om storieboeke te illustreer en jong kinders se verbeelding te laat vlamvat.

Sy stel ook belang in handelskuns en advertensiewese.

Haar raad aan ander talentvolle leerders: “’Practice makes perfect’ en bly passievol.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button