Mokopane gesin kort dringend hulp na botsing
Jacques van Staden is kritiek in ICU ná ’n botsing op Sterkrivierpad en veg vir sy lewe. Sy gesin vra dringend finansiële hulp.
MOKOPANE – Jacques van Staden se lewe is op 13 Maart omvergewerp toe hy in ‘n botsing op die Sterkrivierpad ernstig beseer is.
Voertuigprobleme lei tot noodsituasie
Sy suster, Nicolene van Aarde, vertel dat Jacques daardie aand probleme met sy voertuig ondervind het en dit in die geel lyn tot stilstand moes bring.
Verwoestende impak teen hoë spoed
Die voertuig se waarskuwingsligte was aan, en sy vrou, Estie, was steeds in die passasiersitplek toe Jacques na die agterkant van die voertuig beweeg het om ondersoek in te stel.
‘n Aankomende voertuig het teen ‘n geweldige spoed reg van voor in sy voertuig vasgery.
Die impak het veroorsaak dat Jacques se voertuig aan die anderkant van die pad tot stilstand gekom het.
Estie het geringe beserings opgedoen.

Kritieke toestand en ernstige beserings
Mediese personeel van ‘n privaat hospitaal in Polokwane het bevestig dat Jacques veelvuldige hoofbeserings en ‘n ernstige breinbesering opgedoen het.
Stryd in intensiewe sorg
Hy is tans steeds in die intensiewesorgeenheid op ‘n ventilator, aangesien sy infeksievlakke nie stabiliseer nie, en hy kan ook nog nie kommunikeer nie.
Moontlike rehabilitasie in Pretoria
Volgens Nicolene is daar ‘n moontlikheid dat Jacques volgende week na die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria oorgeplaas sal word vir rehabilitasie, wat tot ses weke of langer kan duur.
Gesin in finansiële nood
Die gesin het egter dringend finansiële hulp nodig. Jacques, die enigste broodwinner, is tans nie in staat om te werk nie, en sy mediese fonds moet betaal word om te verseker dat hy die nodige sorg ontvang.
Nicolene en Estie bedank diegene wat alreeds hul hande en harte oopgemaak het.
Hoe om te help
Enigiemand wat wil help, kan ‘n donasie maak by sy Backabuddy rekening: Jacques-van-staden, of direk in Nicolene van Aarde se bankrekening.
• Naam: N van Aarde.
• Bank: Capitec.
• Rekening: 244 491 7088.
• Verwysing: Jacques.





