Local News

PHS-skaakster behaal eerste plek by Capricorn Skaaktoernooi

Die 15-jarige Juan-Aiden Reichert behaal algehele eerste plek by die Capricorn Skaaktoernooi en mik nou vir die SA-span.

POLOKWANE – Dit is doodstil in die klas waar Juan-Aiden Reichert (15) oor die skaakbord sit en kyk.

Elke skuif word noukeurig beplan voordat hy met selfvertroue sy volgende beweging maak.

Dié PHS-leerder maak reeds naam vir homself in plaaslike skaakkringe en droom daarvan om Suid-Afrika eendag internasionaal te verteenwoordig.

‘n Liefde wat vroeg begin het

Juan-Aiden sê sy liefde vir skaak het reeds op jong ouderdom begin.

“Ek was al op vierjarige ouderdom bewus van skaak omdat my oupa en pa ook speel. Teen nege jaar het ek verlief geraak op die sport en nog nooit teruggekyk nie,” vertel hy.

Capricorn-toernooi: ‘n Onverwagte oorwinning

Hy het onlangs die Capricorn Skaaktoernooi gewen en die algehele eerste plek behaal -iets wat hom self verras het.

“Ek het lanklaas aan ‘n toernooi deelgeneem omdat ek op eksamenvoorbereiding gefokus het. Ons het ook teen gemengde o/18- en o/20-spanne gespeel, so ek is baie trots op my prestasie,” sê hy.

Voor groot toernooie oefen Juan-Aiden tot vier uur per dag, terwyl hy normaalweg een tot twee uur daagliks skaak speel.

Ontmoeting met die wêreld se bestes

Een van sy hoogtepunte van die jaar was deelname aan die 2025 Vrystyl-skaak ‘Grand Slam’-toernooi in Kaapstad, waar hy sy rolmodelle, Magnus Carlsen en Vincent Keymer, ontmoet het.

“Magnus is die beste speler in die wêreld en Vincent tans vierde. Dit was ongelooflik om hulle te ontmoet, te sien speel en handtekeninge te kry,” sê hy.

Juan-Aiden het onlangs ook aan die Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaakkampioenskappe deelgeneem en wag nog op die uitslae.

Volgens hom was die moeilikste wedstryd by die Capricorn-toernooi die laaste ronde teen ‘n o/20-speler.

“My strategie is om nie te stres nie en net my beste te doen. Ek fokus op my spel en nie op teen wie ek speel nie,” sê hy.

Familie, drome en raad

Hy beskryf sy pa as sy grootste ondersteuner én eerste afrigter. “Hy sê hy kan my nie meer klop nie. My familie en skool ondersteun my passie, en my pa inspireer my met sy stories oor skaak.”

Juan-Aiden hoop om vanjaar die Suid-Afrikaanse span te haal en ‘n amptelike skaaktitel te verwerf.

“Moet nooit opgee nie. In die begin voel dit dalk moeilik of vervelig, maar later raak dit baie lekker,” is sy raad aan jong spelers.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button