Sterk geloof en waardes: Michael Jooste oor sy pa as rolmodel
Waardes wat in die huis geleef word, word dikwels die belangrikste lesse wat ’n jong man saam met hom die toekoms in dra.
MOKOPANE – Vir pa Mick en seun Michael Jooste is die beste tye saam langs die braaivleisvuur, waar ure se gesprekke maklik verbyvlieg.
“My pa is beslis my rolmodel. Hy stel vir my ‘n voorbeeld,” sê Michael (18), ‘n matriekleerder aan Hoërskool Piet Potgieter.
Hy hoop om eendag dieselfde standvastige geaardheid as sy pa te hê.
“Ek wil graag soos my pa wees, iemand wat tussen reg en verkeerd kan onderskei, wat leiding gee, ondersteuning bied en die pad saam met God stap,” sê hy.

Waardes, geloof en lewenslesse
Michael vertel dat hy graag eendag die waardes wat hy by sy pa geleer het aan sy eie kinders wil oordra, veral respek vir ander en ‘n sterk geloof.
“Elke aand voordat my pa gaan slaap, gaan hy op sy knieë en praat met die Here.
“Dit is nie iets wat hy my direk geleer het nie, maar deur sy voorbeeld doen ek dit ook.”
’n Pa as rolmodel en raadgewer
Vir Michael is die daaglikse samesyn met sy pa ‘n hoogtepunt. Hy weet hy kan sy uitdagings met hom deel en op goeie raad staatmaak.
“Dankie, Pa, vir die wonderlike pa wat Pa is en vir alles wat Pa vir my doen. Ek is lief vir Pa en waardeer Pa baie.
“Een van Pa se sêgoed wat my altyd sal bybly, is: ‘When praises go up, blessings come down.’”
Gedeelde passies langs die water
Visvang is ‘n passie wat hulle deel, en een van hul grootste hoogtepunte was die dag toe Michael sy eerste groot vis gevang het.
Vir Mick was die geboorte van sy seun egter die grootste hoogtepunt van almal.
“Toe my seuntjie die eerste keer in my arms gesit is, het ek gebars van trots. Ek het dadelik begin dink aan al die dinge wat ek hom sou kon leer, lesse wat ekself by my pa geleer het.”
Hy sê Michael se geboorte het hom selfs meer geïnspireer om te gaan visvang.
“Ek het nou iemand gehad wat langs my kan sit, met wie ek kan gesels en my passies kan deel. Dis een van die lekker dinge van pawees – om te weet daar is ’n seun wat in jou voetspore kan volg.”
Trots, ondersteuning en ’n vol lewe saam
Volgens Mick was sy doel nog altyd om Michael groot te maak as ‘n selfstandige man wat vir homself en sy familie kan sorg.
“Een van die belangrikste dinge wat ek hom wou leer, was om ‘n man met trots en waardes te wees, en ek dink ons het daardie doel bereik.”
Mick ondersteun sy seun gereeld langs die rugbyveld, by kultuuraktiwiteite en akademiese geleenthede. “Al sy prestasies is vir my hoogtepunte, want dit voel asof hy voortdurend nuwe hoogtes bereik.”
Met ‘n glimlag voeg Mick by dat Michael se bekende antwoord van “Ek weetie,” altyd by hom sal bly.
“Ek kon nie vir ‘n beter seun gevra het nie. Hy maak my elke dag trots. Ek is werklik geseën met Michael.”




