Local News

Polokwane-hengelaar (17) verteenwoordig Limpopo by SA’s

Vir HTS Tom Naudé-leerder Lehandri Jacobs het alles by 'n dam saam met haar pa begin - nou is haar oog op tiervis in die Zambezi en 'n toekoms in die sport.

POLOKWANE – Wat jare gelede as gehaltetyd saam met haar pa begin het, het gou vir Lehandri Jacobs (17) ‘n stokperdjie en leefwyse geword. Sy onthou hoe sy en haar pa saam langs die dam gesit het waar hy haar geleer het hoe om knope te bind en vis uit te trek.

“Daardie stilte en die opgewonde gevoel wanneer die katrol begin sing, het my gevang en nooit weer laat los nie.

“Ek was 15 toe ek aan my eerste kompetisie by die Nylrivier naby Mokopane deelgeneem het. Ek was baie senuweeagtig, maar het baie geleer.”

Van die dam tot die jukskeibaan

Lehandri is ‘n leerder aan HTS Tom Naudé, waar sy ook aan jukskei deelneem. Sy sê die sport help haar met fokus en handoogkoördinasie – vaardighede wat ook onmisbaar is vir hengel.

Haar motivering om harder te oefen en beter te presteer, is die droom om eendag vir Suid-Afrika te hengel.

“Ek sien hengel nie net as ‘n stok en ‘n lyn nie, maar as ‘n sport wat dissipline en geduld verg. Om my naam op die Limpopo-spanlys te sien, het my hele aanslag verander.”

Lehandri Jacobs met ‘n vis wat sy by ‘n dam naby Polokwane uitgetrek het.

‘n Vangs om nooit te vergeet nie

Lehandri se grootste vangs tot dusver was ‘n karp van 6.99kg, wat sy by die Nylrivier uitgetrek het.

Lehandri Jacobs met die 6.99kg-karp wat sy by die Nylrivier gevang het – haar grootste vangs tot dusver.

“Dit was ‘n stryd, en iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

Vir haar is die beste tye langs die water vroegoggend wanneer die son oor die Nyl opkom en alles nog rustig is. Wanneer sy nie by die water kan oefen nie, werk sy tuis aan haar gooitegniek en oefen sy om goeie knope te maak.

“Ek glo oefening is wat ‘n kampioen maak.”

‘n Droom wat waar word

Vanjaar is sy vir die eerste keer gekies om aan die SA Hoërskolekampioenskappe, wat aan die einde van September in Bloemhof plaasvind, deel te neem.

“Dit was ongelooflik en effens oorweldigend om dié nuus te kry. Dit is ‘n droom wat waar word. Ek is baie dankbaar en ek gaan my bes doen om my skool trots te maak.”

Oog op die Zambezi

Een van die groot drome op haar kluiteklaplys is om eendag tiervis in die Zambezirivier te gaan vang.

Sy sê die geduld en uitdagings wat hengel bied, is wat haar telkens teruglok.

“Elke dag op die water is anders. Jy leer om kalm te bly en soos ‘n vis te dink. Jy leer om nooit op te gee nie en dan is daar die vriendskappe wat jy langs die pad maak.”

Skool, sport en ‘n boodskap vir ander

Lehandri hoop ook dat meer jongmense by hengel as sport betrokke sal raak.

“Dit leer jou soveel lewenslesse. Programme by skole wat kinders van kleins af aan hengel blootstel, kan ‘n groot verskil maak.”

Om haar skoolwerk, passie vir hengel en kompetisies te balanseer, beplan sy haar tyd noukeurig.

“Ek maak seker my skoolwerk is eerste klaar voordat ek gaan oefen. My ouers en onderwysers help my ook baie. As jy jou tyd reg bestuur, kan jy alles doen. Skool bly altyd nommer een op my prioriteitslys.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button