Local News

Van enkelma tot regter: Marisa se pad na Polokwane

Marisa was skaars 38 toe sy permanent as regter van die Limpopo-afdeling aangestel is – op daardie stadium die jongste regter in Suid-Afrika.

POLOKWANE – “‘n Vrou is nie net ‘n vrou nie; sy is ook ‘n ma, ‘n dokter, ‘n berader, ‘n juffrou, ‘n dominee, ‘n sportafrigter, ‘n kok en ‘n maat. ‘n Vrou moet werk asof sy nie ‘n vrou en ma is nie, en sy moet ‘n ma en vrou wees asof sy nie ‘n werk het nie.” Só beskryf regter Marisa Naudé-Odendaal die rol van die werkende vrou en ma.

Toga aangetrek lank voor haar LLB

Marisa het reeds as laerskoolkind haar pa se prokureurstoga aangetrek wanneer sy klastoesprake moes lewer. In 2002 het sy haar LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

“Ek is eers as prokureur toegelaat en daarna as aktevervaardiger. Ek het my artikels by Coxwell Steyn Vise and Naudé Inc. voltooi en ook daar gepraktiseer voordat ek na die Pretoria Balie gegaan het, waar ek my pupilskap voltooi het.”

Daarna het sy ‘n draai in Bloemfontein gemaak, waar sy lid van die Vrystaat Balie was en as landdros in Bloemfontein, Dewetsdorp en Zastron waargeneem het. Later het sy na Limpopo teruggekeer, waar sy as landdros in Thohoyandou waargeneem het.

Enkelma se moeilike jare

“Die jare tussen 2016 en 2019 was moeilik. Ek was ‘n enkelma van ‘n klein babatjie en moes lang afstande tussen Louis Trichardt, Polokwane en Pretoria reis. In 2020 is ek genader om as regter by die Polokwane Hooggeregshof waar te neem.”

Haar dogter was toe skaars ‘n maand oud. Twee jaar later, op 38-jarige ouderdom, is sy permanent as regter van die Limpopo-afdeling van die Hooggeregshof in Polokwane aangestel.

“Dit is ‘n groot eer en voorreg om reeds op so ‘n jong ouderdom as regter aangestel te word. In daardie stadium was ek die jongste regter in Suid-Afrika.”

Integriteit as grootste waarde

Volgens Marisa is integriteit die belangrikste waarde wat sy deur haar lewe geleer het. “Integriteit is die een ding wat geld nie kan koop nie. As jy dit eers verloor het, kry jy dit nooit weer terug nie.”

Sy beskryf haar ma as haar grootste inspirasie.

“Sy het my van jongs af geleer dat ‘n vrou, net soos enige man, enigiets kan bereik.”

Balans tussen werk en gesin

Marisa erken dat vroue steeds unieke uitdagings in die regsberoep ervaar.

“Die blote feit dat jy ‘n vrou is wat soveel verskillende hoede saam met jou beroep moet dra, is reeds ‘n groot uitdaging. Daar is beslis ‘n plek en ruimte vir vroue in die regsberoep. Tog verg dit goeie beplanning om my werkslading te hanteer en steeds genoeg tyd saam met my familie deur te bring.”

Haar kinders, sê sy, herinner haar gereeld daaraan dat sy nie ‘n superheld of God is nie. “Ek kan net dit beheer wat binne my menslike vermoë is. Die res moet ek in God se hande oorlaat.”

Tyd vir ontspanning is volgens haar ‘n skaars luuksheid. Wanneer sy kans kry, spandeer sy kwaliteittyd saam met haar gesin en besoek graag die wildtuin.

“Balans tussen my werk en my gesinslewe is seker daagliks my grootste uitdaging. Om voltyds ma, vrou, regter, vriendin, gesinslid en kerklid te wees, is nie maklik nie. Dit is met genade van Bo, goeie tydsbeplanning, harde werk en bitter min slaap dat ons as vroue al die balle in die lug hou.”

“Elke vrou is ‘n koningin”

Met Vrouedag op hande sê Marisa die dag bly belangrik omdat vroue steeds maklik onderskat word.

“Dit is juis die vrou met haar innerlike krag wat die wêreld aan die gang hou en balans bring. Vrouedag herinner ons daaraan dat daar niks op aarde sonder ‘n vrou gebeur nie. Elke vrou is ‘n koningin in eie reg en moet haar kroon met trots dra. ‘n Vrou is die kroon van die skepping, vir ‘n vrou is niks onmoontlik nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button