Local News

Van wasmasjiene tot Nutella-koekies: Melissa se droom

Die 27-jarige bak saam met haar ma Belinda ná ure, met haar oog gerig op haar eie koffiewinkel waar koekies en staaltjies hand aan hand loop.

MOKOPANE – Augustus is die maand waarin daar spesiale fokus op vroue ook in die sakewêreld geplaas word, en die 27-jarige Melissa Short is ‘n voorbeeld van hoe ‘n passie in ‘n onderneming kan ontwikkel.

Van wasmasjiene tot bakkersgereedskap

Melissa is saam met haar man, Gerhard, in ‘n besigheid waar hulle wasmasjiene en ander toestelle herstel.

Ongeveer drie maande gelede het sy egter besluit om haar passie ná ure uit te leef en terselfdertyd ‘n bykomende inkomste te verdien.

“Ek het dié spesiale koekies saam met my ma, Belinda, begin bak en geniet dit om my bakvernuf met ander te deel. Dit is ook vir my afleiding,” vertel sy.

‘n Droom van ‘n eie koffiewinkel

Haar visie vir die toekoms is om ‘n suksesvolle besigheid in die bakwêreld te vestig.

Haar groot droom is om eendag haar eie koffiewinkel te hê waar sy haar spesiale koekies kan verkoop en terselfdertyd met mense kan sosialiseer.

“Koffie en koekies loop hand aan hand en ek sal dit graag vir ander wil moontlik maak.

“Ek wil graag ‘n lekker kuierplekkie skep waar mense staaltjies kan uitruil, lag en net sommer lekker kan ontspan,” sê Melissa opgewonde.

‘n Soet manier om by mense uit te kom

En soos vir baie ander vroue is sjokolade vir Melissa ‘n middel tot ‘n einddoel. Haar gunstelinge is die Nutella-koekie en die klassieke sjokoladeskyfiekoekie.

“En hoekom? Want sjokolade bly maar altyd enigeen se gunsteling, myne ook,” sê Melissa tong-in-die-kies.

“Ek is partykeer baie alleen by die huis, so die hoogtepunt van my koekieverkope is om met mense om te gaan, om ‘n bietjie uit die huis te kom en te sien wat in die wêreld aangaan,” verduidelik sy.

Nutella-koekie.

‘n Woord van dank

Melissa bedank haar man en haar ma, Belinda, vir hulle ondersteuning.

“Sonder my ondersteuningsnetwerk sou hierdie droom nooit eers net ‘n gedagte kon wees nie,” het sy afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button