Local News

Petkidz: ’n Stem aan die rou oor ’n geliefde troeteldier

René Rossouw skep met Petkidz emosionele ondersteuning vir diere-ouers wat hulle geliefde diere verloor en alleen deur rou en trauma gaan.

POLOKWANE – Dit is nie almal wat die band tussen ’n troeteldier en sy mens verstaan nie.

Vir baie mense is ‘n troeteldier bloot ’n hond, kat, voël of vis. Tog ken almal iemand vir wie ’n troeteldier soos ’n kind is, soms selfs hul enigste kind.

Diereverlies is ‘n verlies wat geldig is en respek verdien. Foto: Lêerfoto

Een ding waaroor die meeste troeteldiereienaars saamstem, is die hartseer en pyn wanneer ’n geliefde troeteldier sterf.

René Rossouw is ’n diere-ma wat dié pyn ken en verstaan.

Die begin van Petkidz

Nadat sy finaal van Snupi moes afskeid neem en ’n skoolreünie misgeloop het, het die idee vir Petkidz ontstaan.

“Petkidz is ’n passievolle, jong besigheid wat emosionele ondersteuning wil gee aan diere-ouers wat diere-kinders verloor. Ek was intens daarvan bewus dat diereverlies nie sosiaal ondersteun word nie en het besluit om ’n begeleidingsgids te skryf.”

René sê troeteldiere word toenemend as mense verpersoonlik: Hulle word in menslike rolle ingenooi en neem daarmee saam groter dele van hul eienaars se harte in.

Dis ’n verlies wat geldig is en respek verdien.

Die boek

Haar boek, ‘Die Leë Leiband – Diereverlies, Rou en Heling’, het hieruit voortgespruit.

Tydens haar navorsing het René besef daar is min bronne oor die onderwerp.

“Daar was ’n paar outobiografieë van diere-ouers wat hulle stories vertel, maar nie baie wat ’n sielkundige onderbou bied nie. Ons moet weet wat met ons gebeur en hoekom dit ons so diep raak. Daar is geweldig baie materiaal beskikbaar om ons te help met menseverlies en rou, alhoewel baie min van ons regtig weet hoe om iemand anders te troos met ’n stukkende hart.”

René Rossouw se boek, The Empty Leash.

In 2024 het René die maatskappy Petkidz gestig – met ’n ‘z’, want, soos sy sê, “ons dierekinders het sterte”.

Wat diereverlies uniek maak, is die feit dat ons intense trauma beleef in die proses. Dis nie vir ons morele kompas normaal om ‘gesinslede’ dood te maak nie, al weet ons dit is ’n genadedood en sekerlik die mees onselfsugtige en liefdevolste offer wat ons ooit kan bring om ’n geliefde te help. Dit skree teen ons stroom en laat baie van ons met selfverwyt en skuldgevoelens

Sy verduidelik dat die rouproses gewoonlik in isolasie plaasvind, aangesien diereverlies in baie opsigte sosiaal misken word en daar min ondersteuning is wanneer ’n mens se hart uitmekaar val.

“Jy werk deur dieselfde rouproses as iemand wat mensverlies moet hanteer. Om die een of ander rede dink ons dit gaan makliker wees om oor die verlies van ’n diere-kind te kom as oor die verlies van ’n geliefde. Ons emosies gee nie om wie dood is nie. Ons weet net ons hart is stukkend. Die meeste mense is nie bewus van die emosionele prosesse waaroor hulle geen beheer het nie en Petkidz wil begrip en ondersteuning bied.”

Die rou proses

Tydens haar navorsing het René verskeie groepe geïdentifiseer wat besonder kwesbaar is vir diepe rou en verlies. Dit sluit enkelinge, bejaardes, families met kinders en die diensdiergemeenskap in, waaronder mediese, terapeutiese, gids- en sekuriteitsdiere val.

Vir baie mense is ‘n troeteldier ‘n gesinslid. Foto: Lêerfoto

Al die diere van hierdie groepe speel ’n dubbele rol in terme van kameraadskap of vriendskap en funksionaliteit. Wanneer daar skeiding met hierdie diere kom, sluit die pyndrempel nie net ’n liefdesverlies in nie, maar ook uitdagings soos komplekse rou en trauma.

Hierdie trauma word dikwels in isolasie verwerk, aangesien die samelewing dit nie altyd as geldige rou erken nie.

Petkidz bied emosionele ondersteuning aan diere-ouers wat ‘n troeteldier verloor het. Foto: Lêerfoto

“Petkidz se uitgangspunt is dat liefde nooit werklik verloor kan word nie, maar dat dit omgeswaai kan word om ’n ewige seën te bly. Daardie een verskriklike dag van skeiding moet nie al die jare se geluk, vreugde en seëning vervang nie.”

René sê sy het al mense ontmoet wat dit steeds moeilik vind om onverwerkte rou of trauma te hanteer, al is dit langer as twee jaar.

Petkidz bied verskeie dienste aan, wat op die webtuiste www.petkidz.co.za beskikbaar is:

  • Empty Leash – Begeleidingsboek (‘Die Leë Leiband’): Die boek neem die leser op ’n reis vanaf die hartseer en trauma deur die rouproses tot heling.
  • Paws Place – Troosgesprekke: Berading vir diere-ouers wat sukkel om die verlies te verwerk, asook ’n ruimte waar hul ’n huldeblyk aan ’n geliefde troeteldier by Legacy Tails kan laat.
  • Pawsome Services: Plaaslike entrepreneurs word genooi om dienste soos troeteldieroppas en versorging hier aan te bied.
  • Discovery Tails: YouTube- en ander internetskakels wat mense help om meer kennis oor diereverlies op te doen.
  • Sit Happens: ’n Blog wat relevante vrae hanteer, soos hoe om kinders deur diereverlies te help.
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button