Skote by Polokwane meenthuiskompleks: Verdagte aangekeer
’n Skietvoorval by Monet Meenthuise het Sondagoggend geëindig met ’n verdagte se inhegtenisneming.
POLOKWANE – ’n Gewapende voorval by Monet Meenthuise in De La Reystraat het Sondagoggend tot ’n grootskaalse reaksie deur veiligheidsdienste gelei nadat verskeie skote kort voor 11:30 gehoor is.
Die voorval het met die inhegtenisneming van ’n verdagte geëindig, terwyl die persoon wat na bewering binne die kompleks vasgekeer was, die toneel veilig kon verlaat.

Die eerste aanduiding van die voorval het gekom toe ’n bekommerde inwoner op ’n plaaslike noodgroep om hulp gevra het. Volgens die boodskap was die skietery reeds ’n geruime tyd aan die gang.
Limpopo Tactical Response, die polisie en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), en Polokwane Buurtwag het gereageer en die kompleks omsingel. Pogings is aangewend om met die verdagte in verbinding te tree, en die situasie sonder verdere geweld te beëindig.

Ooggetuies
Een ooggetuie het die onsekerheid onder inwoners beskryf en gesê die geluid van die eerste skote is aanvanklik met dié van klappers verwar. “Dit het eers geklink soos klappers, maar ná ’n paar sekondes het ons besef dit is meer as dit,” het die persoon gesê.
Die getuie kon nie die presiese aantal skote met sekerheid bepaal nie, en daar was ook bewerings dat die verdagte binne die kompleks rondbeweeg het terwyl daar geskiet is, maar dié besonderheid kon nie bevestig word nie.
Terwyl die situasie ontvou het, het veiligheidsbeamptes en GPF-lede probeer om met die verdagte te onderhandel. Kommunikasie is onder meer van oor ’n grensmuur gevoer, met die doel om hom te kalmeer en die voorval vreedsaam af te handel.

Die spanning het hoog gebly terwyl omstanders die gebeure dopgehou en gereed gestaan het om skuiling te soek. ’n Hommeltuig is gebruik in ’n poging om die verdagte se ligging vas te stel, terwyl ’n Nyala en verdere noodpersoneel ook op die toneel aangekom het.
Daar was later duidelik verligting toe berigte bevestig het dat die vrou wat aanvanklik binne die meenthuis vasgekeer was, veilig kon wegkom.
‘n Deurbraak
Die deurbraak het gekom toe ooggetuies iemand hoor skree het dat die motorhuisdeur oopgaan. Kort daarna het die onderhandelaar sy arms geswaai om aan te dui dat die verdagte in hegtenis geneem is.
Geen beserings is in die beskikbare inligting aangemeld nie.
Die polisie het nog nie ’n voorvalverslag beskikbaar gestel nie, terwyl plaaslike GPF-lede op die toneel nie bereid was om kommentaar te lewer nie.
Die presiese aanleiding tot die voorval, die aard van die beweerde aanhouding en enige moontlike aanklagte teen die verdagte kon gevolglik nie amptelik bevestig word nie.
Meer inligting sal bekend gemaak word namate dit beskikbaar raak.




