Local News

Vroeë geboorte: Polokwane egpaar steeds in Dubai

Matthew en Cleoné Llewellyn is tans steeds in Dubai, nadat sy op 23 weke in vroeë kraam ingegaan het. Sy is tans onder die sorg van spesialiste nadat hulle baba gebore is.

POLOKWANE – Enige ouerpaar se grootste vrees is dat iets met hul baba sal gebeur.

Plaaslike inwoners Matthew en Cleoné Llewellyn se opgewondenheid oor die koms van hul babaseuntjie, moes egter onlangs onverwags plek maak vir groot onsekerheid toe Cleoné op 23 weke swanger in Dubai in kraam gegaan het.

Die egpaar was op ’n kort vakansie toe Cleoné, drie dae voor die einde van hul reis, kraampyne begin ervaar het.

Ons het die vorige dag nog tyd op die strand spandeer en kort voor die pyne begin, in die swembad geswem. Binne die eerste uur nadat Cleoné se pyne begin het, het ek besef hier is fout. Daar is gelukkig ’n Mediclinic Hospitaal ongeveer 10km van ons af, so Cleoné kon vinnig behandeling kry. Sy was reeds 7cm ontsluit.

Matthew vertel dat hulle geskok was oor hoe vinnig die situasie verander het. Die swangerskap is nie as ’n hoërisikoswangerskap beskou nie, en hulle het geen rede gehad om te verwag dat iets verkeerd sou loop nie.

Dokters kon die kraam tydelik stop. Cleoné is tans onder die sorg van vier spesialiste, wat hoop om die swangerskap met nog vyf weke te verleng sodat hul seuntjie meer tyd het om te ontwikkel.

Die mediese span het die egpaar voorberei op die moontlikheid dat hul baba egter vir ’n baie lang tyd in die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU) sal moet deurbring.

“Die dokters het ons voorberei op moontlik tot 100 dae,” vertel Matthew.

Volgens hom bied die hospitaal intensiewe sorg aan uiters premature babas, met die hoop dat hulle ondanks hul vroeë geboorte gesond genoeg sal word om huis toe te gaan.

‘n Lang pad terug huis toe

Die Llewellyns weet dat hulle moontlik nog drie tot vier maande in Dubai sal moet bly. Hul seun is daar gebore en moet volgens die huidige plan minstens 1.8kg weeg voordat hy veilig genoeg sal wees om saam met hulle na Suid-Afrika terug te keer.

Die verlengde verblyf bring groot finansiële druk mee. Hoewel hul mediese fonds na verwagting ’n deel van die koste sal dek, sê Matthew dat uitbetalings volgens Suid-Afrikaanse tariewe bereken kan word, terwyl mediese sorg in Dubai aansienlik duurder is.

Hul reisversekering dek Cleoné se uitgawes, maar die dekking vir die baba sal eers ná sy geboorte bevestig kan word.

Ons is onseker oor die rekeninge en hoeveel dit gaan wees. Ons het na baie mense uitgereik. Ons is dankbaar vir ons geliefdes wat wel help en ons is seker dat die Here ons uitkoms sal gee om die hospitaal terug te kan betaal.

Benewens hospitaalonkoste is verblyf duur, en die paartjie se onvermoë om tans te werk beteken dat hulle ook inkomste verloor. Vervoer en kos is relatief bekostigbaar, maar die koste van ’n lang verblyf in ’n vreemde land bly ’n groot uitdaging.

Matthew sê hulle is diep dankbaar vir almal wat reeds hulp verleen het. Tog is hul grootste behoefte in hierdie stadium gebed, veral dat die versekering regverdig en volgens die toepaslike bepalings hanteer sal word.

Geloof en ondersteuning in ‘n vreemde land

Hoewel hulle ver van hul familie en vriende in Suid-Afrika is, sê Matthew dat die ondersteuning van ander Suid-Afrikaners in Dubai hulle minder alleen laat voel.

Hulle het mense ontmoet wat hulle selfs na hul huise genooi het om saam kerk te hou, aangesien sulke byeenkomste nie in openbare ruimtes mag plaasvind nie.

Vir die egpaar het dié gebare van omgee ’n besondere betekenis gekry in ’n tyd waarin hulle nie weet wat die volgende dag gaan inhou nie.

Matthew sê die ervaring het hul afhanklikheid van God en hul vertroue in Sy voorsiening verdiep.

Matthew en Cleoné Llewellyn.

Ons het ’n diepe waardering teenoor almal wat bydra om ons te help. Ons grootste behoefte is egter gebed. Ons is dankbaar vir al die morele en emosionele ondersteuning.

Die egpaar wil hê dat mense tuis moet weet dat hulle, ondanks die onsekerheid en finansiële druk, steeds op hul geloof staatmaak.

Die ervaring het Matthew ook anders laat dink oor reis tydens swangerskap.

“Ek sal nooit weer aanbeveel dat ’n swanger vrou reis nie. Die risiko is net te groot,” sê hy.

Vir nou bly hul fokus op Cleoné se gesondheid, hul seuntjie se ontwikkeling en die hoop dat hulle hom veilig huis toe sal kan bring wanneer die tyd reg is.

Hierdie is ‘n ontwikkelende storie en sal opgedateer word sodra nuwe inligting beskikbaar is.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button