PHS-kunstenaar waag kans by wêreldbekende kunskompetisie
Met 'n inskrywing vir die Arte Laguna Prize het Hoërskool Pietersburg se Leandré Coetzee haar talent tussen duisende kunstenaars van regoor die wêreld gemeet.
POLOKWANE – Op 17 het Leandré Coetzee reeds haar gunsteling kunsmediums ontdek, maar dié Hoërskool Pietersburg-leerder se kreatiewe talent strek veel verder as die kunsklas.
Vroeër vanjaar het sy van haar kunswerke vir die Arte Laguna Prize, ‘n internasionale kontemporêre kunskompetisie wat in Italië ontstaan het, ingestuur in die hoop om as een van die uitstallers gekies te word.
Die kompetisie is in 2006 gestig, en wenners se werk word by die historiese Arsenale Nord in Venesië uitgestal.
“Daar was 26 000 deelnemers, en ek was een van die jongstes wat werk ingestuur het,” vertel sy.
Leandré se liefde vir kuns het reeds op ‘n jong ouderdom begin toe sy perde begin teken het. Sy het geen formele kunsopleiding ontvang buiten die onderrig wat sy by Pietersburg Laerskool gekry het nie.
Haar talent is reeds twee keer op die voorblad van die skoolkoerant, Piet-my-Vrou, verewig. Die eerste keer het sy die Poort na Kennis geskilder, terwyl haar jongste voorbladwerk die Eiffeltoring teen ‘n laatmiddagsonsondergang uitbeeld.
“Ek het die foto op ‘n bewolkte dag geneem en toe akrielpenne, grafiet- en swart penne gebruik. Die toring het die langste geneem, en ek het ongeveer nege ure geneem om dit klaar te maak,” sê sy.
Houtskool en olieverf is haar gunsteling mediums, terwyl sy gewone grys potlood as die maklikste beskou.
Sy het ook aan die jaarlikse HeartCreations Art Wall-kunskompetisie deelgeneem, waar sy met haar werk ‘Still Me’ die eerste plek verower het.
Die kunswerk beeld die menslike siel as ‘n skip uit wat deur tyd en weer verniel is, maar steeds deur onbekende waters vaar.
“Die littekens bepaal nie die vermoë om vorentoe te beweeg nie; dit vertel die verhaal van waar ‘n mens al was,” verduidelik Leandré.
Die werk dra die boodskap dat mense nie minder waardevol of bekwaam is omdat hulle anders, gebroke of misplaas voel nie.
Leandré het ook aan die ATKV-Digikuns deelgeneem, waar sy ’n A++ behaal en as die nasionale kykerkeuse aangewys is. By die Con Spirito-kunswedstryd het sy onderskeidelik 94% en 96% behaal.
“Ek word deur die wêreld geïnspireer en fokus tans baie op stillewes en kuns met net een fokuspunt,” sê sy.
Haar kreatiwiteit strek ook tot buite die kunsateljee. Sy help reeds sedert gr. 8 met kunswerke vir die jaarlikse matriekafskeid en het in 2025 gehelp om die dekor te verander. Sy is ook lid van die Pietie Picasso-kunsklub.
Hoewel kuns ‘n belangrike deel van haar lewe is, beoog Leandré om ná skool forensiese rekeningkunde te studeer.




