Geliefde Jo-Lin só onthou na sy in botsing sterf
Ná die noodlottige motorbotsing by die Tom Naudé-brug deel Jo-Lin Scott se familie herinneringe aan haar groot hart, sterk geloof en liefde vir mense.
POLOKWANE – “Ek gaan my kind vreeslik mis. Sy was my vriendin, my bondgenoot en kameraad, veral met haar sussies. Ek wens hierdie vir geen ma toe nie, ‘n mens dink altyd hierdie kan nie met jou gebeur nie.”
Só vertel Linda Goosen, na die skielike dood van haar dogter, Jo-Lin Scott (22) in ‘n motorbotsing op 12 November by die Tom Naudé-brug.
Jo-Lin het haar laerskoolloopbaan by Pietersburg Laerskool voltooi waarna sy vir ‘n rukkie by Hoërskool Pietersburg was voordat sy haar skoolloopbaan met tuisonderig voltooi het.

‘n Groot liefde vir mense
Sy het na skool skoonheid studeer en was tot met haar dood werksaam by Halsted Polokwane.
“Jo-Lin was ‘n mens met ‘n warm persoonlikheid en iemand wat soveel omgee in haar gehad het. Sy was ‘n Godvresende vrou met ‘n ongelooflike goeie sin vir humor,” vertel Linda.
Jo-Lin was die oudste van drie susters en het haar ma ook gehelp met die versorging van die jongeres.
“Sy was passievol oor mense en diere, en wou altyd almal help, al beteken dit soms sy moet te kort kom. Haar sprankelende persoonlikheid het elke vertrek waarin sy stap, opgehelder.”
Linda sê eerlikheid en opregtheid was belangrike waardes vir Jo-Lin. Sy het met gemak drukkies en komplimente uitgedeel.
Slegs ‘n paar dae voor haar dood, het sy in haar dagboek ‘n plasing gemaak uit Johannes 13:7: ‘Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan’ – ‘n boodskap waaraan haar geliefdes nou vashou.
Sy word reeds gemis
“Jo-Lin was nie net nog ‘n dogter of net nog ‘n sussie nie. Sy was my ondersteuning met die grootmaak van haar sussies. Sy het soveel omgee en liefde vir hulle gehad. Jo-Lin was altyd die hart van die vriendekring.”
Linda noem dat daar reeds alledaagse dinge is wat hulle mis van Jo-Lin.
“Haar teenwoordigheid, haar raad en beslis die liefde wat sy uitgestraal het.
“Ek wil hê mense moet onthou dat sy altyd probeer het om die wêreld ‘n beter plek te maak.
“Sy wou net hê daar moet vrede en liefde wees.”
Jo-Lin word oorleef deur haar ouers en twee susters. Daar sal ‘n privaat lewensviering per uitnodiging gehou word.




