PHS se 4de-generasie rugbyneefs
Vierde-generasie Pieties Reuben Weyer, Devan Janse van Rensburg en Floris Venter is neefs, spanmaats en ook vertrouelinge.

POLOKWANE – Neefs Reuben Weyer, Floris Venter en Devan Janse van Rensburg het reeds van jongs af ‘n gedeelde belangstelling in baie dinge, maar veral rugby.
Onder die verskeie gedeelde ervarings oor hulle baie jare saam, staan rugby beslis uit.
Al drie het as kleuters by Erica Pre-Primêr bulletjierugby begin speel en daarna by Oosskool aangesluit waar hulle vir die eerstespan uitgedraf het.
Vanjaar draf die driemanskap weer saam uit op die veld vir Hoërskool Pietersburg se eerstespanoefengroep.
Wat hulle storie selfs interessanter maak, is die feit dat hulle vierde-generasie Pieties is.
Hulle oupagrootjie, oupa, ma’s en pa’s het dié pad self gestap en kon dus eerstehands leiding gee.
“Die verbintenis wat ons het is spesiaal. Ons stel absoluut in dieselfde dinge belang. ‘n Regte broederskap,” vertel Reuben.
Floris se pa, Floris senior, het ook vir PHS se eerstespan gespeel.
“Die band wat ons het, is spesiaal. Ons was mekaar se eerste opponente in rugby en ken mekaar se spel so goed dat ons deur net vir mekaar te kyk, weet watter beweging volgende kom. Dit is ‘n baie spesiale gevoel,” vertel Devon.
Alhoewel die drie nie in dieselfde registerklas is nie, kuier hulle heerlik buite skoolverband saam, en geniet dit veral om te gaan jag.
“Ons oefen elke dag en geniet die nuwe oefeningsentrum by PHS wat nou tot ons beskikking is.
Dit gaan ons beslis help om ons spel te verbeter,” sê Floris.
Vrae waarop dié drie soos een man antwoord:
1. Watter provinsiale rugbyspan ondersteun julle?
Vodacom Blou Bulle.
2. Watter nasionale ondersteun julle?
Springbokke.
3. Wat wag naskool in terme van rugby?
Rugby speel of afrig.
4. Wat kry julle gewoonlik vir Kersfees?
Blou Bul-handelsware.




